Nuus 13:00
BULLETIN 24 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê 2026 sal ‘n uitdagende jaar vir die ANC wees
# Die VF Plus sê die NGV-gesprekke moet nie op halfgebakte planne berus nie
# En die ANC se nasionale uitvoerende komitee-lekgotla is aan die gang in Boksburg
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê hierdie jaar sal uitdagend vir die party wees, aangesien die plaaslikeregeringsverkiesing nader kom. In ‘n toespraak by die party se jaarlikse nasionale uitvoerende komitee-lekgotla, in Boksburg Ekurhuleni het Ramaphosa verwys na ‘n aanslag deur regse magte, beide internasionaal en nasionaal:
# Die minister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, sê armoede en ongelykheid bly strukturele uitdagings en word vererger deur stadige groei, energiebeperkings en wêreldwye ekonomiese druk. Ramokgopa het besonderhede verskaf oor die regering se prestasie teenoor die Mediumtermyn-ontwikkelingsplan in die 2024 tot 2029-boekjare. Sy sê maatskaplike beskerming speel steeds ‘n kritieke stabiliserende rol vir kwesbare huishoudings:
# Die Vryheidsfront Plus sê onderhandelinge oor die Nasionale Gesondheidsversekeringswetsontwerp kan nie op ‘n halfhartige plan fokus nie. Die party dring aan dat die nege hofsake teen die wetgewing moet voortgaan. Hy voer aan die enigste oplossing is om die NGV heeltemal te skrap. Philip van Staden van die VF Plus sê die party bly gekant teen die nasionalisering van gesondheidsorg en waarsku dat die huidige openbare stelsel onvoldoende is:
# Die ANC se jaarlikse nasionale uitvoerende komitee-lekgotla het in Boksburg, Ekurhuleni, begin. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu sê op die agenda is ‘n evaluering van die afgelope jaar se aksieprogram en beplanning vir 2026. Sy sê die lekgotla vind plaas na ‘n baie suksesvolle nasionale raadsvergadering en 8 Januarie-vieringe. Sy sê die Lekgotla stel praktiese planne in plek om die politieke balans van magte, take en aktiwiteite vir die komende jaar te bepaal.
# Die DA in Ekurhuleni is bekommerd oor die onlangse bendebedrywighede in skole in Duduza, wat ‘n ernstige gevaar vir die veiligheid van leerders en onderwysers inhou. Die party het betroubaar verneem dat ‘n groep jong seuns van NN Ndebele Secondary School, na bewering gewapen na die Asser Maloka Secondary School op pad was. Patricia Mathebula van die DA sê hulle het na bewering opponerende leerders van die skoolterrein afgejaag en in gewelddadige gevegte betrokke geraak:
# En tennis: Die verdedigende Australiese Ope-kampioen, Madison Keys, het daarin geslaag om die Melbourne Park-hitte oorkom en Karolina Pliskova te klop om sodoende die vierde ronde van die Grand Slam te haal. Op ‘n dag met ‘n voorspelling van 40 grade Celsius, het die Amerikaanse Keys die ergste toestande vermy deur die Tsjeg in 75 minute af te ransel. Die negende gekeurde sal nou haar landgenoot Jessica Pegula van Florida ontmoet, wat ook tot die laaste 16 deurgedring het met ‘n oorwinning oor die Rus Oksana Selekhmeteva.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….