Nuus 11:00
BULLETIN 24 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa sê armoede en ongelykheid is steeds strukturele uitdagings
# Die GOOD-party vra vir ‘n dringende ondersoek na die dood van graad 3-leerder
# En motorsport: Ferrari onthul sy 2026-motor met Hamilton wat gereed is vir ‘n groot uitdaging
# Die minister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, sê armoede en ongelykheid bly strukturele uitdagings en word vererger deur stadige groei, energiebeperkings en wêreldwye ekonomiese druk. Ramokgopa het besonderhede verskaf oor die regering se prestasie teenoor die Mediumtermyn-ontwikkelingsplan in die 2024 tot 2029-boekjare. Sy sê maatskaplike beskerming speel steeds ‘n kritieke stabiliserende rol vir kwesbare huishoudings:
# Limpopo se Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid vra dat alle skoolvervoeroperateurs leerderveiligheid eerste stel en hul bedrywighede reguleer. Die woordvoerder Matome Moremi Taueatsoala sê meer as 50 voertuie is gister tydens veiliger leerdervervoeroperasies in Lebowakgomo en Mankweng geskut weens nie-nakoming. Hy sê die departement sal voortgaan om bewustheid te verhoog en die nakoming van leerdervervoer- en verkeersregulasies te verseker om leerders se lewens te beskerm:
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap doen ‘n beroep op die LUR vir Onderwys, David Maynier, en sy departement om dringend die dood van ‘n graad drie-leerder by die Klapmuts-laerskool te ondersoek. Die party sê die hartverskeurende voorval gister het skokgolwe deur die Klapmuts-gemeenskap gestuur, wat ouers, leerders en inwoners diep ontsteld gelaat het en antwoorde van die skoolbestuur en owerhede eis. GOOD se Marius van Stade sê verantwoordbaarheid, deursigtigheid en dringendheid is ononderhandelbaar in ‘n saak van hierdie aard.
# Motorsport: Lewis Hamilton sê hy maak gereed vir die reuse-uitdaging om aan te pas by die aardskuddende verandering in tegniese regulasies wat op die 2026 Formule Een-rooster wag. Hy was aan die woord tydens die bekendstelling van Ferrari se nuwe motor. Die sewemalige wêreldkampioen en sy spanmaat Charles Leclerc het die SF-26 deur sy passies gesit by Scuderia se Fiorano-privaattoetsbaan naby hul Maranello-hoofkwartier. Hamilton het erken die laaste keer dat motors radikaal verander het was in 2022, toe dit nie by sy bestuurstyl gepas het nie.
# Tennis: Die verdedigende Australiese Ope-kampioen, Madison Keys, het daarin geslaag om die Melbourne Park-hitte oorkom en Karolina Pliskova te klop om sodoende die vierde ronde van die Grand Slam te haal. Op ‘n dag met ‘n voorspelling van 40 grade Celsius, het die Amerikaanse Keys die ergste toestande vermy deur die Tsjeg in 75 minute af te ransel. Die negende gekeurde sal nou Jessica Pegula ook van Floria ontmoet, wat ook tot die laaste 16 deurgedring het met ‘n oorwinning oor die Rus Oksana Selekhmeteva.
# En ten slotte: Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het opgemerk daar is ‘n gewoonte by sekere gemeenskappe om transformator- en elektriese olies vir persoonlike gebruik aan te wend. Hulle waarsku die publiek om dit nie te doen nie, aangesien sulke olies giftige chemikalieë kan bevat wat ernstige gesondheidsrisiko’s inhou. ‘n Woordvoerder van die departement, Michael Makoena, sê hulle het in gesprekke met munisipaliteite agter gekom die gevaarlike wanopvatting bestaan dat transformatorolie gebruik kan word vir die behandeling van toestande soos rumatiek en artritis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….