Nuus 08:00
BULLETIN 24 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Water en Sanitasie waarsku oor ’n dreigende damwalbreuk by die Senteeko-dam in Mpumalanga
# Minister Tau verwelkom Chery Suid-Afrika se belegging in die land
# En rugby: Die Bulle behaal hul eerste oorwinning in Edinburgh
# Die Departement van Water en Sanitasie waarsku die publiek dat die wal van die Senteeko-dam, in die Kaaprivier-opvangsgebied in Mpumalanga, die risiko loop om te breek. ‘n Woordvoerder, Wisane Mavasa, sê ‘n noodveiligheidsevaluering het getoon dat die dam se oorloopstruktuur ernstig en onomkeerbaar agteruit gegaan het. Dit sluit in gevorderde erosie en insnyding met gevolglike strukturele onbestendigheid. Sy sê die damwal kan sonder verdere waarskuwing ineenstort:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het die aankondiging van die belegging deur Chery Suid-Afrika in die motorsektor verwelkom. Die belegging volg op ‘n ooreenkoms tussen Chery SA en Nissan Suid-Afrika om al die bates van Nissan se Pretoria-aanleg oor te neem. Die minister se woordvoerder, Kaamil Alli, sê die departement gaan voort met sy betrokkenheid by die bedryf om die motorbeleid en ondersteuningsmaatreëls te hersien:
# Die Stad Johannesburg sê ‘n onlangse gesamentlike wetstoepassingsoperasie in Ferndale wys hoe eresntig hy is oor onwettige eiendomsgebruik. Amptenare het op twee eiendomme toegeslaan wat onwettig as ‘n bordeel gebruik is, en ‘n huis waar verskeie mense sonder goedkeuring gewoon het. Waterdienste is afgesny en boetes uitgereik. Nthatisi Modingoane van die stad sê sulke operasies is uiters belangrik om verordenings af te dwing, inwoners te beskerm en veilige en wettige woonplekke te verseker:
# Sportnuus
# Rugby: Die Bulle het gisteraand ‘n geskiedkundige oorwinning in die Skotse hoofstad oor Edinburgh behaal toe hulle van ‘n agterstand van 17-5 hulle Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd met 19-17 gewen het. Die span van Pretoria het in die tweede helfte teruggeveg met drieë deur Johan Grobbelaar en Marco van Staden, te same met Handré Pollard se doelskoppe. En in Brigend het die Leeus met 24-elk gelykop teen die Ospreys gespeel. Kaptein Francke Horn het twee drieë gedruk, met PJ Botha en Quan Horn wat oorgeskop het. Beide spanne het drie punte behaal, insluitend ‘n bonuspunt vir ‘n hulle drieë.
# Tennis: Alex de Minaur het gister sy geloofwaardigheid as die voorste plaaslike speler by die Australiese Ope gehandhaaf toe hy in skoon stelle met die 29ste gekeurde Amerikaner Frances Tiafoe afgereken het. De Minuar het nou vir die vyfde agtereenvolgende jaar die vierde ronde van die toernooi gehaal, maar kon nog nooit verder as die kwarteindronde by sy tuis-Grand Slam vorder nie. Die laaste Australiër wat die Ope-trofee gelig het, was Mark Edmondson 50 jaar gelede en die land bou nou onvermydelik verwagtinge rondom die land se top-gekeurde speler.
# En ten slotte sokker: Die Amerikaanse doelskieter Trinity Rodman het die hoogsbetaalde vrouespeler ter wêreld geword nadat Washington Spirit ‘n driejaarkontrak van 32,3-miljoen-rand per jaar met haar gesluit het. Die 23-jarige dogter van die voormalige basketbalster Dennis Rodman se vorige kontrak het aan die einde van verlede maand verstryk nadat sy hulle sedert 2022 in 47 wedstryde verteenwoordig het. Die span-eienaar Michele Kang sê Rodman verteenwoordig die klub se toekoms asook die van die vrouespel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….