Nuus 07:00
BULLETIN 24 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering gee voorkeur aan geïntegreerde infrastruktuurplanne
# Die Kgosi Mampuru-korrektiewe fasiliteit in Pretoria skuld byna agt-miljoen-rand aan dienste
# En Rusland, Oekraïne en die VSA voer drieledige gesprekke in Abu Dhabi
# Die minister in die Presidensie, Maropene Ramokgopa, sê die regering gee voorkeur aan geïntegreerde infrastruktuurplanne in verskeie sektore deur middel van sy fonds van ‘n duisend-miljard-rand vir mediumtermyn-openbare infrastruktuur. Ongeveer 26-persent van die fonds is goedgekeur, insluitend tien groot projekte ter waarde van 37,1-miljard rand. Ramokgopa sê vertragings duur voort weens beperkte munisipale vermoë en verkrygings-ondoeltreffendheid. Sy beveel aan dat gemengde finansiering uitgebrei word om die privaat sektor te betrek:
# Sakeliga gaan regstappe doen om boere en die privaat sektor in staat te stel om onafhanklik te reageer op die voortgesette bek-en-klouseer-uitbreking. Die sake-organisasie voer aan dat regeringsbeperkings op entstowwe en beheermaatreëls doeltreffende optrede belemmer en die uitbreking vererger. Sakeliga se uitvoerende hoof, Piet le Roux, sê bedryfsgeleide pogings is nodig om die siekte vinnig en doeltreffend te beheer:
# Die Stad Tshwane sê hulle het elektrisiteit by verskeie persele afgeskakel weens miljoene in onbetaalde rekeninge. Die Kgosi Mampuru gevangenis skuld byna agt-miljoen-rand, die Suid-Afrikaanse Polisie-akademie 3,8-miljoen rand, en die kantore van die Staatsinligtingstegnologie-agentskap in Pretoria-Sentraal skuld 4,3-miljoen-rand. Die burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Aaron Maluleka, het alle inwoners en besighede versoek om hul rekeninge te betaal om voortgesette dienste te verseker:
# Russiese, Oekraïnse en Amerikaanse onderhandelaars is in beraadslagings in die Verenigde Arabiese Emirate. Dit is die eerste vergadering wat deur al drie lande bygewoon word sedert Moskou sy volskaalse inval byna vier jaar gelede begin het. Die Kremlin het bevestig Russiese amptenare is deel van die gesprekke, na ‘n vergadering tussen president Vladimir Putin en Amerikaanse gesante in Moskou. Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky beskou die Abu Dhabi-gesprekke as ‘n stap om hopelik die oorlog te beëindig. Hy beklemtoon egter die toekomstige status van grondgebied in die oostelike dele van Oekraïne is steeds onopgelos.
# Sportnuus:
# Rugby: Die Stormers het ‘n hupstoot gekry vir vanaand se Verenigde Rugbykampioenskapwedstryd teen die Haaie op die Kaapstad-stadion met drie Springbokke wat terugkeer na die agterlyn. Die skrumskakel Cobus Reinach, binnesenter Damian Willemse en heelagter, Warrick Gelant is terug in die beginspan. Een verandering is aangebring in die lostrio, met Marcel Theunissen wat Evan Roos vervang terwyl hy rus weens ‘n ligte liesbesering. Die Stormers is die VRK-voorlopers en die Haaie is in die 14de plek en dus desperaat vir ‘n oorwinning.
# En krieket: Die Sunrisers Eastern Cape het die Paarl Royals gister met sewe paaltjies en 72 balle oor in hul SA20 Kwalifiserende 2-wedstryd op Wanderers geklop om na die eindronde deur te dring. Die Royals kon slegs 114 vir 7 aanteken na hulle die loot gewen en gekies het om te kolf. Kyle Verreynne op 52 het die beste met die kolf gevaar, terwyl Senuran Muthusamy in antwoord hierop 3 vir 15 geneem het. Die Sunrisers het die teiken in ‘n blitsige 7,4 boulbeurte gejaag. James Coles het 35 van 17 balle gemoker om sy span tot ‘n oorwinning en hul vierde agtereenvolgende eindronde teen die Pretoria Capitals aan te vuur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….