Nuus 15:00
BULLETIN 23 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Maatskaplike werker beveel ‘n opgeskorte vonnis aan vir Julius Malema
# Die Konstitusionele Hof handhaaf Cholota se uitlewering as onregmatig
# En krieket: Cooley keer ná meer as 20-jaar terug as Engeland se boulafrigter
# ‘n Maatskaplike werker, Jessie Thomson, het ‘n opgeskorte vonnis eerder as tronkstraf aanbeveel vir die EFF-leier, Julius Malema, tydens sy voorvonnisverhoor in die Landdroshof in Oos-Londen. Thompson het in camera getuig en sy bydraes tot liefdadigheid uitgelig, insluitend ondersteuning vir bejaardes. Malema is skuldig bevind aan die afvuur van ‘n vuurwapen tydens die EFF se vyfde bestaansjaarvieringe in Mdantsane in die Oos-Kaap in 2018. Indien hy tot meer as 12-maande tronkstraf gevonnis word sonder die keuse van ‘n boete, kan hy sy parlementêre setel verloor.
# Die Konstitusionele Hof het die Vrystaatse Hooggeregshof se uitspraak bekragtig dat die uitlewering van oudpremier Ace Magashule se persoonlike assistent, Moroadi Cholota, onregmatig was. Sy is in 2024 uit Amerika uitgelewer nadat sy geweier het om staatsgetuie te word in die asbes-saak saak van 255-miljoen-rand wat met Magashule verbind word. Adjunkhoofregter Dunstan Mlambo beklemtoon nie alle uitlewerings-onreëlmatighede moet howe verbied om gesag uit te oefen oor misdaad nie:
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, kan nie langer uitstel om meer magte aan die metropolisie toe te ken nie. Dit volg nadat Cachalia erken het die polisie is nie toegerus om bendegeweld en uitbuiting in die Wes- en die Oos-Kaap te bekamp nie. Hill-Lewis sê die metropolisie kan die polisie help met ondersoeke na misdade met vuurwapens, bendes en dwelmmiddels:
# Die Green Connection vra die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika om verdere Eskom-elektrisiteitstariefverhogings ingevolge die Sesde Meerjarige Prysbepaling te verwerp. Lisa Makaula van die organisasie waarsku dat hoër pryse armoede sal vererger, ongelykheid sal verdiep en kwesbare gemeenskappe sal benadeel. Makaula sê Suid-Afrika se elektrisiteitsprysstelsel is gebroke en daar is geen deursigtigheid nie. Sy dring aan dat NERSA die openbare belang vooropstel en ‘n regverdige oorgang na goedkoper hernubare energie ondersteun:
# Krieket: Die voormalige Tasmaniese toetsspeler Troy Cooley is heraangestel as Engeland se boulafrigter. Hy het die span in 2005 gehelp om die As te herwin voordat hy na sy geboorteland teruggekeer het om vir Krieket Australië se nasionale prestasieprogram te werk. Cooley het later dieselfde rol in Indië vertolk. ESPNCricInfo berig die 60-jarige Cooley sal verantwoordelik wees vir die ontwikkeling en afrigting van Engeland se snelboulers – van die Leeus en die Jong Leeus tot die senior spanne. Die land is die afgelope vier jaar sonder ‘n toegewyde snelboulafrigter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-144-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-921-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….