Nuus 08:00
BULLETIN 24 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê die Menseregtekommissie moet vermeende rassediskriminasie by WesBank ondersoek
# Die African Transformation Movement sê die WesBank-bewerings wys sistemiese diskriminasie in die finansiële sektor
# En, Donald Trump wen die Republikeinse presidensiële voorverkiesing in New Hampshire
# ActionSA sê hy gaan aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie skryf om ondersoek in te stel na ‘n gewese werknemer van Wesbank se bewerings. Die bank word beskuldig dat hy ʼn spesifieke stelsel gebruik sodat swart kliënte hoër rentekoerse betaal. WesBank ontken die bewerings dat hy op grond van ras teen kliënte diskrimineer. ActionSA se woordvoerder, Lerato Ngobeni, sê rassisme kan nie geduld word nie:
Intussen het die African Transformation Movement sy oproep verskerp dat ʼn kommissie van ondersoek aangestel word om die groot banke in Suid-Afrika se beweerde manipulering van die rand te ondersoek. Dit kom te midde van nuwe bewerings dat Wesbank ʼn spesifieke stelsel gebruik om rentekoerse vir swart kliënte te bepaal wat daartoe lei dat hulle meer as wit mense betaal. ATM se woordvoerder, Zama Tshona, sê die bewerings is kommerwekkend want dit dui op ʼn patroon van sistemiese diskriminasie in die finansiële sektor:
# Die Uncedo Taxi Association en Border Taxi Association het ingestem om die taxigeweld in Port St Johns en Lusikiski in die Oos-Kaap te beëindig. Ses mense is dood toe lede van die twee verenigings op mekaar geskiet het by die taxistaanplek in Port St Johns. Een van die beseerdes was ʼn elfjarige seun. In die ooreenkoms word onder meer bepaal dat enige taxivereniging wat betrokke is by die sluiting of belemmering van verkeersvloei, met 500-duisend-rand beboet sal word. Die verenigings sê hulle wil seker maak daar vind geen verdere sterftes plaas nie.
# Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump het die Republikeinse presidensiële voorverkiesing in New Hampshire gewen en die voormalige goewerneur van Suid-Carolina, Nikki Haley, verslaan. Hy was verlede week die oorweldigende wenner in die Iowa-koukusse. Volgens uitgangspeilings was Trump die wenner onder kiesers wat die ekonomie en immigrasie as belangrik beskou, terwyl Haley se ondersteuners aborsie en buitelandse beleid prioritiseer. Die wenners van die New Hampshire-voorverkiesing was in die laaste vier presidensiële verkiesings die Republikeinse kandidaat, insluitend Trump in 2016.
# Sokker: Die verdedigende kampioene van Senegal het Guinee met twee-nul verslaan en spog nou met drie seges uit drie wedstryde in die Afrikabeker-toernooi se Groep C. Albei spanne is deur na die laaste 16. Mauritanië het ‘n opskudding veroorsaak toe hulle die 2019-wenners van Algerië met ʼn naelskraapse een-nul-oorwinning uitgeskakel en ʼn geskiedkundige plek in die uitklopfase behaal het. Kameroen het in die doodsnikke teruggeveg en twee doele aangeteken om Gambië met drie-twee te verslaan en die laaste 16 te haal. Angola is eerste in Groep D na hulle twee-nul-sege teen Burkina Faso wat tweede is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-618-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-24-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….