Nuus 12:00
BULLETIN 23 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma en Thales se jongste appèlaansoek-uitspraak word uitgestel
# Die DA beskryf die omstrede BRICS-vlootoefening as ‘n mislukking van die bevelsketting
# En rugby: Baltimore is gasheer vir die Springbokke en die All Blacks se laaste toets
# Oudpresident Jacob Zuma en sy medebeskuldigde, die Franse wapenvervaardiger Thales, sal eers volgende Vrydag weet of hul jongste aansoek om verlof tot appèl geslaag het in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal. Die hof sou vandag sy uitspraak lewer nadat hul aansoek om vryspraak in die wapentransaksie-korrupsiesaak van miljarde rand van die hand gewys is. Zuma en Thales het in ‘n nuwe aansoek in Desember onder meer aangevoer twee getuies in die saak het intussen gesterf.
# Die DA sê president Cyril Ramaphosa se erkenning dat die proses vir die Will for Peace-vlootoefening gebrekkig was, maak dit ‘n mislukking in die bevelsketting, nie bloot ‘n bedryfskwessie nie. Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, het ‘n ondersoek gelas om te bepaal waarom sy opdrag vir Iran se onttrekking ignoreer is. DA-woordvoerder Chris Hattingh sê Ramaphosa moet beslissend teen Motshekga optree:
# Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, sê hulle gaan reg oor die provinsie voort om onveilige voertuie wat leerders vervoer, te skut. Meer as 60 leerdervoertuie is gister in die Lenasia-gebied geskut. Diale-Tlabela sê hulle gaan voertuie wat onpadwaardig is en nie die regte permitte het nie, onmiddellik skut terwyl bestuurders sonder rybewyse aangekeer sal word:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Pendeltrein het in die suidooste van Spanje teen ‘n hyskraan gebots. Dit is die vierde treinongeluk binne ‘n week. Nooddienste sê vier mense het geringe beserings opgedoen. Minstens 43 mense is Sondag dood en sowat 200 beseer in ‘n hoëspoed-botsing in die suidelike Andalusië-streek. ‘n Treinbestuurder is dood en vier passasiers ernstig beseer toe ‘n pendeltrein Dinsdag naby Barcelona ontspoor het, met twee treine wat dieselfde dag in Katalonië gebots het. Spanje se grootste treinbestuurdersvakbond het sedertdien ‘n driedaagse landwye staking uitgeroep.
# Rugby: Suid-Afrika en Nieu-Seeland sal die laaste toets van hul reeks in September op die M&T Bank-stadion in Baltimore, Amerika, speel. Twee van die eerste drie toetse sal in Johannesburg plaasvind, en die ander een in Kaapstad. Die Springbokke het in 2018 laas in Amerika gespeel, in Washington teen Wallis, terwyl die All Blacks verlede jaar in Chicago teen Ierland gespeel het. Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, sê een van hulle hoof-doelwitte is om die Bokke na nuwe gehore en gebiede te neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-330-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-916-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….