Nuus 08:00
BULLETIN 23 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister De Lille sê sakegeleenthede en toerisme dra sowat 8,8-persent by tot die BBP
# Julius Malema is vandag weer in die hof vir ‘n voorvonnisverhoor
# En die Deense premier sê hul soewereiniteit is nie onderhandelbaar nie
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê Suid-Afrika is gereed, gewillig en bevoeg om die Wêreld Ekonomiese Forum se Afrika Davos-lentevergadering in 2027 aan te bied. Dit bring sakeleiers en openbare figure uit Afrika en die res van die wêreld byeen om te beraadslaag oor belangrike temas, openbaar-privaat vennootskappe en om Afrika se strategiese ontwikkelingsagenda te versnel. De Lille sê Suid-Afrika is die voorste bestemming vir sakegeleenthede in Afrika en die Midde-Ooste:
# Die EFF-leier Julius Malema se voorvonnis-prosedure begin vandag in die Oos-Londen-landdroshof nadat hy in 2025 skuldig bevind is aan verskeie vuurwapenverwante klagtes. Dit hou verband met ‘n voorval in 2018 toe hy tydens die party se vyfde verjaardagvieringe by die Sisa Dukashe-stadion in Mdantsane ʼn vuurwapen afgevuur het. Hy is aan verskeie misdade skuldig bevind, onder meer onwettige vuurwapenbesit en onwettige besit van ammunisie. Die EFF se sekretaris-generaal, Marshall Dlamini, beskryf die saak as nonsens:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid is ‘n bewaringsbevel van die Spesiale Tribunaal toegestaan om die pensioenuitbetaling van 500-duisend-rand aan die voormalige Nasionale Loterykommissie se KwaZulu-Natalse kliënteskakelbeampte, Sibonelo Vilakazi, te keer. Die bewaringsbevel spruit uit ‘n ondersoek, wat bevind het Vilakazi het sy posisie misbruik om sy eggenoot, Nosipho Zanele Zuma, in staat te stel om 48 betalings van altesaam 31,2-miljoen-rand te ontvang van entiteite wat voordeel trek uit loterytoelaes. Die fondse is deur Zuma se maatskappy, ZZET Enterprises, gekanaliseer. Vilakazi is in 2024 ná ‘n tugondersoek ontslaan.
# Die Deense eerste minister Mette Frederiksen verwelkom samesprekings tussen president Donald Trump van Amerika en die NAVO-hoof, Mark Rutte, wat tot ʼn raamwerk vir ʼn toekomstige Groenland-ooreenkoms gelei het. Sy beklemtoon egter die eiland se soewereiniteit is nie onderhandelbaar nie. Trump het gesê hy sal op 1 Februarie nuwe belasting op agt Europese lande instel as hulle voortgaan om sy voorgestelde oorname van Groenland teen te staan. Frederiksen sê Amerika en Denemarke moet met respek saamwerk sonder om mekaar te dreig:
# Krieket: Die Paarl Royals kry geleentheid om dalk die SA20-eindstryd te haal nadat hulle die Joburg Super Kings met 36 lopies verslaan het in hulle uitspeelwedstryd in Centurion. Die tiener Lhuan-dre Pretorius het 51 aangeteken en die Royals het 210 vir vyf op die telbord geplaas. Daarna het Hardus Viljoen drie paaltjies platgetrek en die Super Kings tot 174 vir agt beperk. Die Paarl Royals en die Sunrisers Eastern Cape spook vanaand sake uit op die Wanderers, en die wenner takel Pretoria Capitals in Sondag se eindstryd in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-786-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-947-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….