Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Finansies, Enoch Godongwana het in Davos Switserland gesê die vermeende uitsluiting van Suid-Afrika uit die G20 wat vanjaar in die VSA aangebied word, is net ‘n tydelike terugslag. Hy sê Suid-Afrika sal ingesluit bly onder ander presidentskappe.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Lei met: “MALEMA’S DARKEST HOUR”. Die koerant skryf die EFF-leier word vandag gevonnis vir die afvuur van ‘n vuurwapen in die openbaar.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku dat ‘n siklus van ondergemiddelde reënval die volgende paar jaar in die Wes-Kaap kan voorkom. Behalwe vir die gebrek aan watersekerheid, lê die grootste deel van die 25/26-brandseisoen ook steeds voor. Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde sê die nasionale regering gaan gevra word om twee rampe te verklaar: die een vir watertekorte en die ander vir brande.
Tweedens skryf die webblad advokaat Dinkie Portia Dube is aangestel as adjunk vir die Openbare Beskermer.
En laastens is daar nuus oor president Donald Trump wat die New York Times gaan dagvaar oor ‘n ongunstige meningspeiling.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die woordvoerder van die familie van die 16-jarige Busisiwe Radebe wat in die Vanderbijlpark-ongeluk dood is, Themba Radebe, sê die ongeluk moet ‘n les vir elke taxi-eienaar wees om versigtig te wees.
En tweedens word berig Suid-Afrika se eerste krioablasieprosedure is by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria uitgevoer. Dit is ‘n minimaal indringende behandeling wat abnormale weefsel, insluitend kankeragtige gewasse, vries en vernietig.
# En Sowetan:
Berig dit was ‘n donker week vir leerdervervoer. Veertien leerders is dood naby Vanderbijlpark, ‘n minibustaxi wat leerders vervoer het, het aan die brand geslaan, ‘n bus met 109 leerders aan boord het met ‘n bakkie gebots en ‘n voertuig met sitplek vir sewe mense is voorgekeer met 27 leerders in die voertuig.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die verwagte droogte en verdere brandgevaar in die Wes-Kaap.
En tweedens word berig daar is lank reeds oproepe dat die begraafplaas in Stellenbosch waar Piet de Koker oor die naweek vermoor is, beveilig moet word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig wyle president Nelson Mandela se dogter, Makaziwe Mandela het die Appèlhof se uitspraak verwelkom dat sy kan voortgaan om van haar pa se erfstukke op veiling te verkoop. Haar aansoek is teengestaan deur die Suid-Afrikaanse Erfenisbronne-agentskap.
En tweedens skryf die koerant die bestuurder van die voertuig waarin die Tik-Tok-ster Junior King by Verkeerdevlei in die Vrystaat dood is, het volgens die polisie nie ‘n rybewys gehad nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die wêreldbekende Royal Show in Pietermaritzburg sal voortgaan ten spyte van bek-en-klouseer.
En tweedens word berig daar is talle skole in KwaZulu-Natal waar die leerders nog geen handboeke en ander hulpmiddels ontvang het nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Het eerstens met ’n vrou van Windhoek gepraat oor haar stryd met geestesgesondheid ná jare se werkloosheid weens Covid en finansiële druk haar geknak het, so erg dat sy byna haar eie lewe geneem het.
En tweedens word berig die polisie het vasgestel dat meer as 40 mense begrafnispolisse uitgeneem het op die lewe van die 41-jarige Salom Nikanor van Oshana voordat hy vroeër die maand vermoor is.