Nuus 07:00
BULLETIN 23 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika se G20-presidentskap is gekenmerk as brugbouer
# ActionSA stel ondersoek in na minister Willie Aucamp se leeu-omstredenheid
# En Ryan Coogler se Sinners het ‘n rekord 16 Oscar-benoemings ontvang
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika se G20-presidentskap het geopolitieke spanning onder lede suksesvol hanteer om oor belangrike kwessies ooreenstemming te bereik. Die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, het die media ingelig oor die instelling van Suid-Afrika se 2025 G20-presidentskap met die tema, From Declaration to Implementation. Lamola sê die land se G20-presidentskap is gekenmerk deur sy brugbouer-rol:
Intussen sê die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, Suid-Afrika gaan in 2027 die Wêreld Ekonomiese Forum se Afrika Davos-lentevergadering aanbied. Tau het in Switserland gesê Afrika se strategiese belangrikheid in die wêreldekonomie neem toe, en Lente Davos plaas die vasteland as ‘n belangrike rolspeler in belegging, handel en langtermyngroei:
# ActionSA versoek die volledige bekendmaking deur die pas aangestelde minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, te midde van bewerings van moontlike botsende belange. Die party beweer Aucamp het dalk sy private sakebelange bevoordeel deur ‘n taakspan te keer wat die leeubedryf sou ondersoek en die sektor uitfaseer. Alan Beesley van ActionSA sê die minister het nie bevestig of sy besighede deur iemand anders bestuur sal word nie:
# MTN het sy posisie as Suid-Afrika se top mobiele netwerk vir 2025 behou en ‘n netwerkgehaltetelling van 9,96 behaal. Volgens MyBroadband Insights se verslag, wat op 1,3 miljoen landswye spoedtoetse gebaseer is, is Cell C tweede met Vodacom derde, gevolg deur Telkom en Rain. MTN is die voorloper in aflaai- en oplaaispoed, latensie en werkverrigting in groot stedelike gebiede. Dit word toegeskryf aan voortgesette beleggings in LTE en 5G waarmee hy sy mededingers ore aansit.
# Krieket: Die Proteas het ʼn groot terugslag beleef nadat Tony de Zorzi en Donovan Ferreira weens beserings aan die T20-Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka moes onttrek. De Zorzi het nie volgens verwagting goed herstel nadat hy sy regter-dyspier geskeur het nie. Ferreira het sy linker-sleutelbeen gekraak terwyl hy vir die Joburg Super Kings in die SA20 gespeel het. Hulle word deur Ryan Rickelton en Tristan Stubbs vervang. Suid-Afrika skop hul Wêreldbeker-veldtog op 9 Februarie af teen Kanada.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-501-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-940-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-66-sent per vat.
# En ten slotte: Die vampier-riller Sinners het die rekord verbeter met 16 Oscar-benoemings, insluitend vir Beste Rolprent en Beste Regisseur vir Ryan Coogler. Michael B Jordan is benoem as Beste Akteur terwyl sy medespelers, Wunmi Mosaku en Delroy Lindo, ook erkenning kry. Die riller, One Battle After Another, het 13 benoemings ontvang, insluitend Beste Rolprent en Beste Akteur vir Leonardo DiCaprio. Emma Stone is die jongste vrou wat met sewe Oscar-benoemings kan spog nadat sy erkenning gekry het vir Bugonia, wat ook as Beste Rolprent benoem is. Wenners word op 15 Maart aangekondig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….