Nuus 18:00
BULLETIN 22 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Automobiel-assosiasie vra vir verantwoordelike bestuurgewoontes om padstertes te verminder
# Die ANC verwelkom die Hooggeregshof-bevel oor die elektrisiteitstariewe in Ekurhuleni
# En, Franschhoek is op hoë gereedheidsgrondslag met ‘n brandlyn wat die dorp bedreig
# Die Automobiel-assosiasie van Suid-Afrika sê bestuurders moet verantwoordelike en defensiewe bestuursgewoontes aanleer om sterftes te verminder. Hy beklemtoon dat padveiligheid begin met behoorlike bestuurderopleiding wat fokus op gedragstegnieke. Die uitvoerende hoof van die AA, Bobby Ramagwede het in gesprek met SABC die belangrikheid van padinfrastruktuur, voertuigpadwaardigheid en bestuurdersbekwaamheid beklemtoon. Hy vra strenger vervoerregulasies om te verseker dat voertuie padwaardig is en bestuurders behoorlik opgelei is om passasiers veilig te vervoer:
# Die ANC in Ekurhuleni verwelkom ‘n bevel deur die Hooggeregshof in Pretoria wat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika beveel om die 2024/25 elektrisiteitstariewe vir die stad en drie ander munisipaliteite te hersien. Regter Anthony Milar het beslis dat die vorige tariewe onwettig is. Die uitspraak bring verligting vir inwoners en klein besighede wat sukkel met stygende koste. Die ANC sê die besluit weerspieël hul mensgesentreerde veldtog, openbare konsultasies en voorspraak, wat verseker dat elektrisiteitspryse billik en deursigtig is, en dat hulle reageer op die behoeftes van huishoudings en plaaslike ondernemings.
# Die Brandweerdiens van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê brandbestryders vorder met pogings om veldbrande in Franschhoek te beheer. Veldbrande het sedert 8 Januarie reeds nagenoeg 23-duisend-500 hektaar vernietig. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê die meeste brandlyne is onder beheer, maar een bly aktief en beweeg nader aan gebiede met ‘n hoë brandstoflading, wat ‘n gevaar vir die dorp inhou:
# ‘n Gewapende man is volgens berigte op vrye voet in die Australiese dorp, Lake Cargelligo, ná ‘n skietery by twee verskillende plekke waarin twee vroue en ‘n man dood, en nog ‘n man gewond is. Die polisie het die dorp met ‘n bevolking van ongeveer een-duisend-500, afgesper. Hulle weet wie die gewapende man is, maar sy naam is nog nie bekendgemaak nie. Die skietery het plaasgevind terwyl Australië ‘n nasionale dag van rou herdenk het vir die slagoffers in die Bondi Beach-aanval verlede maand, waarin 15 mense tydens ‘n Hanukkah-viering in Sydney dood is.
# Rugby: Die voormalige kaptein van Engeland, Jamie George, wat sy kontrak met Saracens vir ‘n jaar verleng het, tree volgende jaar uit. Die 35-jarige, wat sy toetsbuiging in 2015 gemaak het, het 105 keer vir Engeland uitgedraf. Hy was deel van Sesnasies-titeloorwinnings vir sy land, terwyl hy ook aan drie Wêreldbeker-toernooie deelgeneem het – insluitend 2019 se eindstryd toe Engeland 32-12 teen Suid-Afrika verloor het. George sê Saracens het hom ‘n liefhebber van die sport gemaak en dit beteken baie om sy loopbaan by die klub af te sluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-451-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-822-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 63-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….