Nuus 17:00
BULLETIN 22 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum vra die privaat sektor se hulp om die bek-en-klouseerkrisis te bekamp
# Soil of Africa veroordeel die onttrekking van leerdervervoer in Tshwane
# En, Julius Mkhwanazi verdedig die wettigheid van sy EMPD-aanstelling
# AfriForum doen ‘n beroep op die regering om dringend met die privaat sektor saam te werk om die vinnige verspreiding van bek-en-klouseer te bekamp. Die organisasie se woordvoerder vir Omgewingsake, Lambert de Klerk, waarsku die uitbreking het ‘n nasionale ekonomiese bedreiging geword wat boere, werksgeleenthede en voedselsekerheid raak. Hy sê die staat se gesentraliseerde reaksie is te stadig en vra beheerde privaat sektor-betrokkenheid, onder streng regeringstoesig, met inenting, logistiek en veeartsenykundige dienste:
# Die Soil of Africa-beweging veroordeel die Stad Tshwane oor die onttrekking van leerdervervoer by die Pienaarspoort-hervestigingsnedersetting in Mamelodi. Tebogo Morske van die beweging sê meer as 84 kinders kan nou nie skool toe gaan nie en ander moet daagliks lang afstande loop. Hy noem die stap ongrondwetlik en eis die onmiddellike herstel van vervoer en aanspreeklikheid deur stadsamptenare:
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-Metropolisie, Julius Mkhwanazi, hou vol sy aanstelling was wettig. Mkhwanazi het aan die parlemententêre ad hoc-komitee gesê hy het as polisiehoof opgetree nadat die huidige hoof, Jabulani Mapiyeye, in 2024 geskors is. Mkhwanazi het bygevoeg hy was op daardie stadium die gekwalifiseerde adjunkhoof. Hy het ook verwys na gerugte rakende sy rol en dat die daaropvolgende herstrukturering van die EMPD onder ‘n breër Gemeenskapsveiligheidsdepartement geplaas het:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het sy Vredesraad in Davos, Switserland, bekendgestel, waar politieke en sakeleiers die jaarlikse Wêreld-ekonomiese Forum bywoon. Trump het talle ander wêreldleiers genooi om by die raad aan te sluit, wat aanvanklik gefokus het op die versterking van Gaza se wapenstilstand. Geen ander permanente lid van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het tot dusver onderneem om aan te sluit nie. Rusland bestudeer steeds die voorstel, Frankryk het geweier, Brittanje het gesê hulle gaan nie nou aansluit nie, en China het nog nie reageer nie.
# Rugby: ‘n Volgepakte Kaapstad-stadion word Saterdag verwag vir die eerste van twee opeenvolgende Verenigde Rugbykampioenskap-derbies tussen die Stormers en die Haaie. Meer as 40-duisend-kaartjies is reeds vroeër hierdie week verkoop. Die onoorwonne Stormers is tans boaan die punteleer met 36 punte van agt oorwinnings in agt wedstryde, terwyl die besoekers in die veertiende plek is, met slegs twee oorwinnings. Die twee spanne sal volgende Saterdag weer op Kingspark in Durban meeding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-935-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-821-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 63-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….