Nuus 15:00
BULLETIN 22 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die ANC se stilswye by die VN ontbloot sy medepligtigheid aan die slagting in Iran
# Die NVG bevestig ‘n prima facie-saak in die leerdervervoerongeluk in Vanderbijlpark
# En tennis: Die 40-jarige Wawrinka is deur na die derde ronde in Melbourne
# Die DA sê die regering se stilswye oor die slagting van anti-regeringsbetogers in Iran ontbloot sy medepligtigheid. Die party kritiseer die regering omdat hy nie deelgeneem het aan ‘n stemming van die Verenigde Nasies se Menseregteraad wat ‘n spesiale sitting oor Iran vereis het nie. Die ANC het slegs selfbeheersing en dialoog versoek. DA-woordvoerder Ryan Smith sê die ANC stel politieke belange voor menseregte, wat Suid-Afrika se internasionale beeld skaad:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig hy beskik oor prima facie-bewyse teen die bestuurder in Maandag se noodlottige leerdervervoer-ongeluk in Vanderbijlpark. Die 22-jarige Ayanda Dludla het vandag in die plaaslike Landdroshof verskyn. Die NVG se woordvoerder in Gauteng, Lumka Mahanjana, het by die hof gesê die dossier ondersteun 14 aanklagte van moord, eerder as strafbare manslag. Sy sê die staat glo hy het ‘n sterk saak teen Dludla:
Die Gautengse LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het intussen die dood van ‘n 16-jarige meisie in die Sebokeng-hospitaal bevestig, wat die dodetal in die ongeluk op 14 te staan bring. Sy sê ondanks ononderbroke mediese sorg en verskeie operasies het twee ernstig-beseerde leerders weens hul beserings gesterf. Nkomo-Ralehoko voeg by ‘n 10-jarige oorlewende is steeds in ‘n bestendige toestand in die Sebokeng-hospitaal se pediatriese chirurgiese saal:
# Damme reg oor Limpopo is vol of oorvol weens aanhoudende swaar reën, wat kommer oor plaaslike oorstromings wek. Die Departement van Water en Sanitasie sê groot damme bly struktureel gesond, maar riviere se sterk vloei beïnvloed laagliggende gebiede. Die Klaserie- en die Flag Boshielo-dam het 100-persent oorskry, met oorstromings wat in die Mopani-distrik en naby die Krugerwildtuin aangemeld is. Owerhede het onveilige kruisings gesluit en gemeenskappe versoek om waarskuwings en ontruimingskennisgewings na te kom.
# Tennis: Die Switserse veteraan, Stanislas Wawrinka, het vanoggend in Melbourne die geskiedenisboeke herskryf toe hy die eerste 40-jarige in dekades geword het om die derde ronde van die Australiese Ope te haal. Hy het vyf stelle nodig gehad om Arthur Gea van Frankryk te verslaan, wat 19-jaar jonger as hy is. Wawrinka het agterna erken hy is poot-uit ná vier-en-‘n-half-uur op die baan. Die verdedigende kampioen, wêreld-nommer-twee Jannik Sinner van Italië, het die plaaslike speler, James Duckworth, maklik verslaan in hul tweederonde-wedstryd op die Rod Laver-arena.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-924-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-828-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….