Nuus 14:00
BULLETIN 22 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG bevestig ‘n prima facie-saak in die Vanderbijlparkse leerdervervoerongeluk
# Minister Aucamp sê vloedskade van honderde miljoene rand is in die Krugerwildtuin aangerig
# En tennis: Raducanu gaan spel her-evalueer ná haar vroeë vertrek uit Melbourne
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig hy beskik oor prima facie-bewyse teen die bestuurder in Maandag se noodlottige leerdervervoer-ongeluk in Vanderbijlpark. Die 22-jarige Ayanda Dludla het vandag in die plaaslike Landdroshof verskyn. Die NVG se woordvoerder in Gauteng, Lumka Mahanjana, het by die hof gesê die dossier ondersteun 14 aanklagte van moord, eerder as strafbare manslag. Sy sê die staat glo hy het ‘n sterk saak teen Dludla:
Die Vereniging van Staatsamptenare vra intussen ‘n nasionale leerdervervoer-imbizo ná verskeie leerdervervoer-tragedies. Claude Naicker van die vakbond sê terwyl hy president Cyril Ramaphosa se oproep vir veiliger leerdervervoer erken, dui die herhaalde voorvalle op stelselmislukkings. Die VSA dring aan op multi-sektorale optrede, insluitend strenger voertuiginspeksies, bestuurdersondersoeke, afdwingbare veiligheidstandaarde en volhoubare befondsing om leerders te beskerm:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, sê die onlangse vloede in die Krugerwildtuin het uitgebreide skade veroorsaak wat moontlik honderde miljoene rand beloop. Hy sê paaie, brûe, personeelbehuising, toeriste-geriewe en water- en elektriese stelsels is geraak, met 15 kampe wat gesluit is en toerismebedrywighede wat opgeskort is. Aucamp sê ondanks die vernietiging was daar geen lewensverlies nie. Hy voeg by SANParke het die Kruger-herstelfonds van stapel gestuur om vinnige herstelwerk te ondersteun.
Die Departement van Water en Sanitasie het intussen damveiligheidsingenieurs gestuur om ‘n dam in privaat besit naby Barberton in Mpumalanga te beoordeel ná berigte oor ‘n moontlike gevaar dat die wal kan meegee. Woordvoerder Wisane Mavasa sê die My Own Dam, wat vir besproeiing gebruik word, toon voortdurende erosie omdat dit gereeld oorloop. Sy sê owerhede stel waarskuwings en ontruimingsmaatreëls in vir nabygeleë gemeenskappe, veral in die Barberton-vallei:
# Tennis: Die voormalige Britse wonderkind, Emma Raducanu, beplan om haar spel te her-valueer nadat sy in die tweede ronde van die Australiese Ope uitgeskakel is. Sy het in skoon stelle teen die plaaslike speler Anastasia Potapova verloor. Raducanu het in 2021 opslae gemaak toe sy as ’n tiener-kwalifiseerder die Amerikaanse Ope gewen het, maar kon sedertdien nie weer ’n toernooi wen nie. Sy het van tiende op die wêreldranglys na 29ste gedaal, gepootjie deur verskeie langtermynbeserings. Raducanu erken sy speel tans nie soos sy graag wil nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-956-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-823-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….