Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die regering sal binnekort begin om privaat sektor-beleggers toe te laat om deel te neem aan die finansiering van nuwe netwerkinfrastruktuur vir Eskom, soos kraglyne. Dit sal waarskynlik toegepas word deur ‘n program soortgelyk aan die Onafhanklike Kragprodusente-verkrygingsprogram.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor ‘n skietery aan die Gautengse Oos-Rand waarin vier mense dood en nog twee gewond is. Die skieter het probeer om selfdood te pleeg, maar is tans onder bewaking in die hospitaal. Die voorval het by twee persele in Kemptonpark en Benoni plaasgevind en die motief vir die moorde is onbekend.
Dan skryf die koerant Suid-Afrika se UFC-kampioen, Dricus du Plessis keer môre terug huis toe. Die ANC is intussen vies omdat Du Plessis in ‘n onderhoud gesê het Suid-Afrika het die swakste regering ter wêreld.
En laastens is daar nuus oor ‘n deelnemer aan Boer soek ‘n Vrou van 2015, Ignus Ferreira wat vermoedelik aan ‘n hartaanval oorlede is.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die korporatiewe wêreld het wakker geskrik ná die doktorsgraadskandaal van die ekonoom Thabi Leoka.
En berig daar heers toenemende kommer oor mensehandel.
# Sowetan:
Berig beskuldigde nommer twee in die Senzo Meyiwa-moordsaak, Bongani Ntanzi was na bewering ‘n wapenhandelaar wat vuurwapens aan die bendes in KwaZulu-Natal voorsien het.
# En The Citizen:
Skryf meer as 500-duisend 2023-matrieks moet nou meeding vir ‘n plek in tersiëre inrigtings waar net meer as 400-duisend gehuisves kan word sonder enige waarborg van gehalte-onderrig.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die skietery aan die Oos-Rand.
Dan skryf die koerant oor die verleentheid vir die polisie in Bloemfontein toe ‘n patrollievoertuig wat onwettig geparkeer was geskut is. Die polisie moes een-duisend-800-rand opdok.
En laastens is daar ook ‘n berig oor die terugkeer van Dricus du Plessis.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n vermeende rower het homself te pletter geval toe hy na bewering ‘n groep stappers op Tafelberg wou aanval. Die stapgids het die man glo met pepersproei gespuit toe die voorval gebeur het.
En tweedens skryf die koerant die middel waarvoor die Springbok Elton Jantjies positief getoets het, word na bewering normaalweg vir perde voorgeskryf.
# En Cape Times:
Skryf oor drie mans wat in die Wes-Kaap in hegtenis geneem is in verband met ‘n internasionale kinderpornografienetwerk.
En berig ook oor die vermeende rower wat dood is toe hy stappers wou aanval.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die sogenaamde perlemoenkoning van Nelson Mandelabaai, Julian Brown is vrygespreek en ná twee jaar agter tralies vrygelaat.
En skryf oor Charles Jonas se 20-jarige gestremde seun Leon Human wat voor hom in die straat voor hul huis in Gelvandale doodgesteek is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf daar word ondersoek ingestel nadat dit aan die lig gekom het dat 113 matriekleerders by een skool tydens verlede jaar se eindeksamen by eksamenbedrog betrek is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig klagtes is ontvang dat die roerende bates van Sperrgebiet Diamond Mining opgeraap word voordat die likwidasie van die maatskappy afgehandel is.
En tweedens is daar nuus oor die reddingswerk van die Namibiese Dierewelsynsvereniging vir verwaarloosde perde.