Nuus 09:00
BULLETIN 22 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen stel ‘n raad aan om die reaksie teen bek-en-klouseer te versterk
# ActionSA wil hê minister Kubayi moet ‘n veiligheidsplan vir Gautengse howe voorsien
# En drie joernaliste is onder die 11 wat deur Israelse magte in Gaza gedood is
# Die minister van Landbou John Steenhuisen het amptelik die Raad vir die Koördinering van Bek-en-klouseer in die Bedryf aangestel om Suid-Afrika se nasionale strategie te versterk en die siekte te beheer. Die Noord-Kaap is die enigste provinsie wat nie geraak word deur die siekte wat na twee van die land se grootste veegebiede versprei het nie. Steenhuisen sê die raad sal verseker die bedryf speel ‘n aktiewe koördinerende rol in die strategie teen bek-en-klouseer, insluitend die verspreiding van entstof, opspoorbaarheid en gereedheid om die siekte te beheer.
# Die GOOD-party sê die afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, Sisi Khampepe wat die voorsitter is van die regterlike kommissie wat vertragings ondersoek in die Waarheid- en Versoeningskommissie se ondersoeke en vervolging, moet haar nie laat boelie nie. Oudpresidente Thabo Mbeki en Jacob Zuma wil hê sy moet haarself onttrek en beskuldig haar van partydigheid. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, sê Khampepe moet nie die aansoek persoonlik opneem nie:
# ActionSA vra die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, om ‘n plan voor te lê oor beskermingsmaatreëls by landdroshowe in Gauteng. Twee mense is Dinsdag doodgeskiet en drie ander gewond toe gewapende mans op ʼn groep mense buite die Booysens-landdroshof losgebrand het. Phiwokuhle Xulu van ActionSA sê sulke koelbloedige misdadigheid in die omgewing van ʼn hof is ʼn aanslag op regsonafhanklikheid:
# Elf mense, insluitend twee jong seuns en drie Palestynse joernaliste, is dood in Israelse aanvalle in sentraal Gaza. Die Israelse weermag sê hy het opdrag vir die aanval op die joernaliste gegee nadat sy soldate talle verdagtes geïdentifiseer het wat ʼn hommeltuig gebruik wat met Hamas verbind word. Die Palestynse Joernalistesindikaat sê die joernaliste het ʼn humanitêre, joernalistieke sending uitgevoer om burgerlikes se lyding te dokumenteer. Volgens Joernaliste Sonder Grense het Israelse magte tussen Desember 2024 en Desember 2025 minstens 29 Palestyne joernaliste in Gaza doodgemaak.
# Sokker: Bayern Munich het sy plek bespreek onder die laaste 16 van die Kampioeneliga na sy 2-0-sege oor Union Saint-Gilloise. Die vyfmalige kampioene, Barcelona, het sokkies opgetrek en ʼn veerkragtige Slavia met 4-2 verslaan om dalk reguit na die laaste 16 te vorder. Liverpool het Marseille gemaklik met 3-0 afgeransel en hul kans op plek onder die top-agt verbeter. Newcastle United het ook die laaste 16 gehaal na ʼn 3-0-oorwinning oor PSV Eindhoven. Chelsea, Juventus, Athletic Club en Qarabağ het ook sukses behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-873-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-795-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….