Nuus 15:00
BULLETIN 21 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa beklemtoon onderwys is die dryfveer van ontwikkeling
# Suid-Afrikaners word genooi om voorstelle in te dien vir die nasionale begroting
# En rugby: Skotland se groep van 40 spelers vir die Sesnasies word gelei deur Sione Tuipulotu
# President Cyril Ramaphosa sê onderwys bly die dryfveer van ontwikkeling en is belangrik om mense uit armoede te verlig en ongelykheid te verminder. Hy het op die basiese onderwyssektor-lekgotla in Boksburg, Gauteng, gesê sterk fondamente in geletterdheid, syfervaardigheid en wetenskap laat leerders toe om op skool te slaag en betekenisvol deel te neem aan die ekonomie. Hy beklemtoon ‘n veerkragtige onderwysstelsel moet in die grondslagfase begin:
Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê intussen belegging in die opleiding en beroepsontwikkeling van grondslagfase-onderwysers is nie ‘n keuse nie, maar noodsaaklik. Hy sê die grondslagfase is nie bloot ‘n vroeë stadium van skoolonderrig nie, maar die fondament waarop die hele onderwysstelsel gebou word. Manamela het bygevoeg die gehalte van grondslagfase-leer in klaskamers is onafskeidbaar van die gehalte van onderrig binne hoër onderwysinstellings.
# Die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid veroordeel die skietery voor die Landdroshof in Booysens, Johannesburg, waarin twee mense dood en drie beseer is. Woordvoerder Bandile Masuku kritiseer die gebreke in veiligheidsmaatreëls en eis aanspreeklikheid van die gekontrakteerde sekerheidsonderneming. Hy vra wetstoepassing om oortreders aan te keer, versoek openbare samewerking en beloof verskerpte toesig om die veiligheid in regsinstellings te verbeter:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het Suid-Afrikaners genooi om voorstelle in te dien vir 2026 se nasionale begroting. Die Nasionale Tesourie sê die begroting het ten doel om ekonomiese groei, fiskale bestendigheid en ondersteuning vir kwesbare huishoudings te bewerkstellig te midde van beperkte hulpbronne. Godongwana lewer sy begrotingsrede op 25 Februarie, wanneer hy al die finansiële, ekonomiese en maatskaplike verpligtinge in die regering se beplande uitgawes sal uiteensit. Openbare insette word gevra oor bestedings-voorkeure, skuldvolhoubaarheid, staatsbeheerde ondernemings, finansies, energie, water, belasting en munisipale befondsing.
# Rugby: Skotland se hoofafrigter, Gregor Townsend, het 40 spelers aangewys vir die Sesnasiesreeks, met Sione Tuipulotu as kaptein. Dit bestaan uit 23 voorspelers en 17 agterspelers, met Jonny Gray en Dave Cherry wat terugkeer. Freddy Douglas en Liam McConnell is twee van sewe spelers wat nog in slegs enkele toetse gespeel het. Skotland begin sy veldtog op 7 Februarie in Rome teen Italië. Townsend sê dit was ‘n moeilike taak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-197-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-868-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….