Nuus 14:00
BULLETIN 21 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society veroordeel die 23ste uitstel van Nadia Lotz se moordverhoor
# Die United Africans Transformation kritiseer die 3,8-persent salarisverhoging vir LP’s
# En gholf: Durban gaan internasionale spelers van wêreldgehalte by die Durbanse Ope verwelkom
# Action Society veroordeel herhaalde vertragings in die Nadia Lotz-moordverhoor. Dis die 23ste keer uitgestel in die Strand-streekhof in Kaapstad omdat die verdediging onvoorbereid is. Lotz se vriend, Charles Appollis, word daarvan aangekla dat hy haar op 4 Maart 2023 vermoor het. Woordvoerder Kaylynn Palm sê die verhoor is traumaties vir Lotz se familie, en daar is na twee jaar bitter min vordering. Sy sê die verrigtinge sal volgende Vrydag hervat:
# Die United Africans Transformation veroordeel die salarisverhoging van 3,8-persent vir Parlementslede en noem dit ‘n vernedering vir sukkelende Suid-Afrikaners. Die party se woordvoerder, Doer Mabule, sê die besluit toon politieke leiers staan afsydig teenoor armoede, hongerte en swak dienste. Mabule voer aan die Parlement het gefaal in sy toesig en verantwoordbaarheid, en sê die beloning van LP’s ondanks onderprestasie is onregverdigbaar. Hy vra die onmiddellike omkering van die salarisverhoging:
Forum for South Africa beskryf intussen Suid-Afrikaanse Brouerye se salarisverhogingsaanbod van vier-persent as ‘n belediging. Die vakbond FAWU het ‘n verhoging van 11-persent geëis, maar dit later tot 7,5-persent verminder en daarna weer tot 5,5-persent. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê die SAB se salarisaanbod is ‘n aanval op werkers se waardigheid en oorlewing:
# Gholf: Die geskiedkundige Durbanse buiteklub gaan volgende maand met die Durbanse Ope gasheer wees vir ‘n sterk groep spelers. Die toernooi speel ʼn belangrike rol in Suid-Afrikaanse beroepspelers se pogings om vinnig weg te spring op die Pad na Mallorca-ranglys, en so na volgende seisoen se DP World-toer te vorder. 2022 se kampioen, JC Ritchie, het verlede seisoen die heel eerste Suid-Afrikaner geword om boaan die Pad na Mallorca-ranglys te kom en daardeur die DP World-toer te haal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-237-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-861-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte: Netflix het nog lenings van Wall Street-banke verkry om sy gewysigde kontantbod vir Warner Brothers Discovery se ateljee- en stroomdiens-onderneming te finansier. Indienings by regulatoriese owerhede toon dat Netflix nou 692-miljard-rand in oorbruggingslenings het, meestal vervang deur langtermyn-effekte. Die stromingsreus het ingestem om die volle koopprys kontant te betaal te midde van belangstelling deur ‘n mededinger, Paramount Skydance. Banke wat die jongste finansieringshupstoot verskaf het, sluit in Wells Fargo, die Franse multinasionale bank BNP Paribas en die bank- en finansiële dienste-instelling HSBC.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….