Nuus 13:00
BULLETIN 21 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Creecy versoek skoolvervoeroperateurs om hulle te verbind tot die Nasionale Padveiligheidsplan
# Rugby: 42 spelers neem deel aan die Junior Springbok-oefenkamp in Stellenbosch
# En ‘n koei verstom wetenskaplikes met haar seldsame gebruik van gereedskap
# Die minister van vervoer, Barbara Creecy, sê swak wetstoepassing het die land se leerdervervoerdiens op sy knieë gedwing. Dit volg op die botsing tussen ‘n minibus vir skoolvervoer en ‘n vragmotor in Vanderbijlpark, Gauteng, waarin 12 kinders dood is. Creecy het verkeerswetstoepassing-agentskappe beveel om hul optrede te verskerp met ‘n spesifieke fokus op leerdervervoer, veral wat oorlading, padwaardigheid en spoed betref. Sy het ook alle regeringsfere wat by leerdervervoer betrokke is, versoek om die Nasionale Padveiligheidsplan na te kom wat onlangs hersien is.
# Die vakondfederasie SAFTU verwelkom die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, se onttrekking van die langdurige afwykings-kennisgewing van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes. Dit herstel volle afdwingbaarheid van Artikel 34A, wat werkgewers verplig om bedrae wat van werkersalarisse afgetrek word, oor te betaal aan pensioen-, voorsorg-, mediese of ander voordeelfondse. Woordvoerder Asive Dyani sê die besluit bemagtig arbeidsinspekteurs om beslissend op te tree teen werkgewers:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres het die sloping van die UNRWA-hoofkwartier in Oos-Jerusalem in Israel veroordeel. Die sloping volg op ‘n wet wat die bedrywighede van die VN-agentskap vir Palestynse vlugtelinge verbied. Israel het langdurige probleme met UNRWA, beskuldig die instelling dat hy Hamas help en eis dat dit ontbind word. Woordvoerder Farhan Haq sê VN-kantore is onskendbaar en moet immuun bly teen enige vorm van inmenging:
# Rugby: ‘n Oefengroep van 42 Junior Bokke trek vandag in Stellenbosch in die Wes-Kaap saam as ‘n groot stap in vanjaar se SA Onder 20-veldtog. Die groep sluit talle gereelde spelers in, maar ook heelwat nuwe talent uit die onder 18’s en 13 spelers wat einde verlede jaar deel was van die onder 19’s wat in Frankryk en Ierland gaan toer het. Die afrigter van die Junior Bokke, Kevin Foote, sê dis belangrik dat die jong spelers die grondslag ontvang van die kultuur en omgewing waarin hulle hul beste kan lewer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-247-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-861-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-60-sent per vat.
# En ten slotte: Wetenskaplikes besin weer oor beeste se vermoëns nadat ‘n Oostenrykse koei, Veronika, gewys het sy kan gereedskap met indrukwekkende vaardigheid gebruik. Daar is besef koeie se kognitiewe vermoë is baie beter as wat voorheen vermoed is. Veronika, wat in ʼn plattelandse bergdorpie bly, beoefen reeds jare lank die kuns om haarself met stokke, harke en besems te krap. Haar besondere gedrag het uiteindelik die ore van spesialiste in diere-intelligensie in Wenen bereik. Hulle het agtergekom Veronika gebruik die bo- en onderkant van dieselfde voorwerp vir verskillende take.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….