Nuus 09:00
BULLETIN 21 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Lesetja Kganyago sê die Reserwebank sal die land se nuwe inflasieteiken met ywer nastreef
# SAFTU veroordeel die salarisverhogings vir openbare ampsdraers
# En Air Force One met Trump aan boord moes omdraai weens ‘n elektriese fout
# Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê die bank se Monetêre Beleidskomitee fokus steeds op die inflasiekoers, terwyl die Tesourie klem plaas op fiskale konsolidasie en hervormings vir ekonomiese groei. Die regering se verlaging van die inflasieteiken verlede jaar vir die eerste keer in 25 jaar was ‘n uitvloeisel hiervan. Kganyago woon die Wêreld Ekonomiese Forum in Switserland by as deel van Suid-Afrika se afvaardiging. Hy sê die Reserwebank bly fokus op sy mandaat van monetêre bestendigheid en sal die nuwe inflasieteiken doelgerig najaag.
# Die vakverbond Saftu veroordeel president Cyril Ramaphosa se besluit om salarisverhogings vir openbare ampsdraers goed te keur. Lede van die Nasionale Uitvoerende Gesag, Parlement, provinsiale uitvoerende rade en provinsiale wetgewers se salarisse word met 3,8-persent verhoog, en dié van regters, landdroste, tradisionele leiers en lede van onafhanklike grondwetlike instellings met 4,1-persent. Saftu-woordvoerder Asive Dyani sê hierdie verhogings word goedgekeur terwyl werkers aangesê word om salarisbeperkings, werksverliese en besuinigings te aanvaar:
# Die DA sê die Gautengse Eenheid vir Ernstige Misdaad moet die skietdood van DJ Bongani Mfito dringend en deeglik ondersoek. Dit volg na berigte dat hierdie geval, asook die moord op die Stad Ekurhuleni-ouditeur Mpho Mafole, vermoedelik met Ekurhuleni-burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, verbind word. Brandon Pretorius van die DA sê Mafole is doodgeskiet slegs dae nadat hy ‘n verslag ingedien het oor onreëlmatighede in ʼn hoogs winsgewende tender vir chemiese toilette wat die metro uitgereik het:
# Air Force One, met die Amerikaanse president Donald Trump aan boord, is gedwing om terug te keer na die Andrews-basis in Maryland, Washington, kort nadat hulle na Switserland vertrek het. Die Withuis sê die bemanning het ‘n geringe elektriese probleem geïdentifiseer en weens versigtigheid besluit om om te draai. Volgens die verklaring sal Trump aan boord van ‘n ander vliegtuig na die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos reis, waar hy na verwagting vandag die byeenkoms sal toespreek.
# Sokker: Arsenal het hul rekord in die Kampioeneliga dié seisoen gehandhaaf toe hulle Inter Milan met 3-1 geklop het om as een van die top twee in die kompetisie se ligafase te eindig. Twee doele deur Gabriel Jesus en een deur Viktor Gyökeres het die Gunners vir die laaste 16 laat kwalifiseer. Die huidige kampioene, Paris Saint-Germain, het met 1-2 teen Sporting verloor. Manchester City is met 1-3 deur Bodo/Glimt gestuit, wat hul hoop laat wankel om die uitspeelronde vry te spring. Die 15-malige kampioene, Real Madrid, het Monaco 6-1 verslaan en kan steeds onder die laaste 16 eindig.
En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-251-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-844-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….