Nuus 08:00
BULLETIN 21 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê Suid-Afrika het geen prosedures met die BRICS-vlootoefening oortree nie
# Eskom sê die Koeberg-eenhede word tydelik teen verminderde krag bedryf
# En Donald Trump sê hy kan ander metodes as tariewe gebruik om Groenland oor te neem
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het Suid-Afrika se deelname aan die omstrede BRICS-vlootoefening, waarby Iran ook betrokke was, verdedig. Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, gaan ondersoek laat instel ná berigte dat die Suid-Afrikaanse Vloot president Cyril Ramaphosa se opdrag dat Iran onttrek, geïgnoreer het. Rusland en China het ook aan die vlootoefeninge deelgeneem. Mbalula het aan die SABC gesê Suid-Afrika se optrede het nie diplomatieke of sekerheidsprosedures geskend nie:
# Eskom sê die Koeberg-kernkragstasie word veilig en seker bedryf en alle noodsaaklike regulatoriese en bedryfsprotokolle word nagekom. Dit volg nadat die aanleg se opwekkingsvermoë gistermiddag met byna 90-persent gesny is ná ‘n fout op die transmissielyn vanaf die Pinotage-transmissiesubstasie naby Stellenbosch. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê nie een van die kernreaktors is deur die voorval geraak nie:
# Die EFF in Gauteng veroordeel die noodlottige skietvoorval gister by die Booysens-landdroshof in Johannesburg en beskryf dit as ʼn barbaarse geweldsdaad. Twee mense is doodgeskiet en drie ander gewond toe gewapende mans losgebrand het op ʼn groep wat hofverrigtinge bygewoon het. Die voorval hou blykbaar verband met misdaadbendes en die intimidasie van prokureurs en getuies. Die EFF sê die voorval is ʼn aanval op die strafregstelsel, die heiligheid van die hof en die oppergesag van die reg.
# President Donald Trump sê Amerika sal ʼn manier vind om Groenland te bekom wat Amerika én die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie gelukkig sal maak. Hy het gister joernaliste by die Withuis toegespreek tydens die eerste herdenking van die dag waarop hy as die 47ste president van Amerika ingesweer is. Trump sê hy kan ander maniere gebruik om Groenland te bekom. Hy voeg by die mense van Groenland sal met sy plan saamstem sodra hy met hulle gepraat het:
# Krieket: Die Nieu-Seelandse keurders is bekommerd oor die fiksheid van twee spelers net weke voor die begin van die T20-Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka. Die snelbouler Adam Milne is beseer toe hy vir Sunrisers Eastern Cape in die SA20 gespeel het, terwyl die veelsydige Michael Bracewell Sondag ‘n besering opgedoen het tydens die derde eendagwedstryd teen Indië. Die veelsydige Kristian Clarke is by die groep vir die T20-reeks teen Indië ingesluit. Die Wêreldbeker begin op 7 Februarie, met Nieu-Seeland wat die volgende dag teen Afghanistan te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-144-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-829-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….