Nuus 18:00
BULLETIN 20 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Robert McBride weerhou indiensnemingsbesonderhede van ad hoc-komitee
# Die Federasie van Nasionale E-taxis vra die regering om regulatoriese gapings in die leerdervervoersektor te oorbrug
# En, die Kaapse Wynland waarsku teen voorgesette brandgevaar en moeilike terrein in Franschhoek
# Die voormalige uitvoerende direkteur van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Robert McBride, weier om sy huidige werkplek bekend te maak. Hy getuig voor die parlementêre ad hoc-komitee wat beweerde inmenging in polisie-sake ondersoek, en haal intelligensie-wetgewing aan. Lede bevraagteken McBride se versuim om sy CV by te werk en is bekommerd oor nie-openbaarmaking. ‘n Komiteelid, Sibonelo Nomvalo, kritiseer hom omdat hy ‘n verouderde CV ingedien het en sê dit mislei die Parlement:
# Die Federasie van Nasionale E-taxis vra die regering om dringend regulatoriese gapings in die leerdervoersektor te oorbrug en toesig te versterk. Dit volg ná die botsing gister in Vanderbijlpark wat die lewens van 12 leerders geëis het. Die woordvoerder, Tella Masakale, sê dit is nie bloot ‘n botsing nie; dit is ‘n pynlike gevolg van langdurige mislukkings met die regulering, afdwinging en verantwoordbaarheid in die privaat- en leerdervervoersektor:
Intussen eis NotInMyName International die onmiddellike hersiening van wetgewing oor skoliervervoer in die land. Daar was 18 mense in die minibus, wat vier méér is as die toelaatbare 14. Die sekretaris-generaal van NotInMyName International, Themba Masango, sê dit was nie net ‘n ongeluk nie, maar die verval van die stelsel.
# Die Brandweerdienste van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê brande woed steeds in die Franschhoek-gebied, met ‘n sterk suidoostewind van tot 50-kilometer per uur wat brandbestryding bemoeilik. Vroeër vandag is brande in Idasvallei en Pniel vinnig onder beheer gebring. Jo-Anne Otto van die munisipaliteit sê grondspanne werk waar die terrein dit toelaat, met beperkte lugondersteuning:
# Sokker: Die gasheer en naaswenner, Marokko, het die kampioen, Senegal, na Afrika en die wêreld se beheerliggame verwys oor sy spelers en ondersteuners se gedrag tydens Sondag se eindstryd van die Afrikabekertoernooi in Rabat. Sommige spelers het van die veld gestap nadat ‘n omstrede strafskop aan Marokko toegeken is, en het eers 20 minute later teruggekeer om uiteindelik die wedstryd te wen. Sommige van Senegal se ondersteuners het voorwerpe rondgegooi. Marokko sê die gebeure het ‘n beduidende invloed op die eindstryd gehad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-en-31-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-739-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 63-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….