Nuus 15:00
BULLETIN 20 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa keur openbare ampsdraers se salarisverhogings goed
# Krieket: Die uitspeelwedstryde van die SA20 is bevestig
# En minister Groenewald prys gevangenes se akademiese sukses
# President Cyril Ramaphosa het openbare ampsdraers se salarisverhogings goedgekeur wat op 1 April in werking tree. Die Onafhanklike Kommissie vir die Vergoeding van Openbare Ampsdraers het die aanbevelings gedoen en daarvolgens sal ampsdraers in sekere kategorieë ‘n verhoging van 4,1-persent ontvang, insluitend regters, landdroste, tradisionele leiers en hoofde van grondwetlike instellings. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê bekostigbaarheid, inflasie en die staat se beskikbare hulpbronne is oorweeg:
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê die bestuurder in gister se noodlottige leerdervervoer-ongeluk in Vanderbijlpark is skynbaar in polisie-aanhouding. Woordvoerder Steve Mabona het bevestig 12 leerders is dood is en een moet nog uitgeken word. Hy sê drie leerders is steeds in die waakeenheid, een in ‘n privaat hospitaal en twee in openbare hospitale, terwyl een beseerde leerder ontslaan is:
# Solidariteit versoek Amerika om Suid-Afrika se deelname aan die Wet op Afrika-Groei en -Geleenthede te behou. Woordvoerder Jaco Kleynhans sê die voorsitter, Flip Buys, het in ‘n brief aan presidente Ramaphosa en Donald Trump, en die Senaatsleier, John Thune, gevra dat diplomatieke spanning nie die handelsooreenkoms moet ontspoor nie. Kleynhans waarsku om Suid-Afrika uit te sluit sal werkers, ondernemings en nywerhede benadeel:
# Krieket: Die tafel is gedek vir die SA20 se uitspeelrondes. Die eerste-geplaasde Sunrisers Eastern Cape gaan môre sake uitspook teen die tweede-geplaasde Pretoria Capitals in die eerste kwalifiseerder in Durban. Paarl Royals, wat derde is, kom Donderdag in Centurion teen Joburg Super Kings te staan in die uitskakelstryd. Die verloorder van die eerste kwalifiseerder en die wenner van die uitskakelstryd ontmoet Vrydag op die Wanderers in die tweede kwalifiseerder. Sondag se eindstryd op Nuweland in Kaapstad is tussen die wenners van môre en Vrydag se wedstryde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-267-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-728-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Leerders in Suid-Afrika se korrektiewe sentrums het ‘n slaagsyfer van 94,4-persent behaal in verlede jaar se matriek-eindeksamen en die nasionale gemiddeld van 88-persent oortref. Altesaam 180 leerders van 18 skole het die eksamen afgelê, met 15 skole wat ‘n slaagsyfer van 100-persent behaal het en spog met altesaam 132 onderskeidings. Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, het die pogings geprys en beklemtoon onderwys is ‘n sleutelinstrument vir rehabilitering.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….