Nuus 14:00
BULLETIN 20 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse Onderwysdepartement bevestig die bestuurder in die leerderongeluk is in polisie-aanhouding
# Gevalle van bek-en-klouseer styg in die Vrystaat
# En tennis: Sinner is maklik deur na die tweede ronde van die Australiese Ope terwyl Monfils vir oulaas groet
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê die bestuurder in gister se noodlottige leerdervervoer-ongeluk in Vanderbijlpark is skynbaar in polisie-aanhouding. Woordvoerder Steve Mabona het bevestig 12 leerders is dood is en een moet nog uitgeken word. Hy sê drie leerders is steeds in die waakeenheid, een in ‘n privaat hospitaal en twee in openbare hospitale, terwyl een beseerde leerder ontslaan is:
# Gevalle van bek-en-klouseer het skerp gestyg in die Vrystaat, met 29 nuwe bevestigde besmettings wat die aantal gevalle op 223 te staan bring. Die provinsiale Departement van Landbou sê verskeie uitbrekingsgebiede is geïdentifiseer, wat streng kwarantyn en bewegingsbeperkings op nabygeleë plase tot gevolg het. Moontlike gevalle in die Xhariep-distrik word ook ondersoek. Owerhede het 130-duisend entstofdosisse bekom en waarsku dat nie-nakoming van biosekerheidsreëls die uitbreking kan vererger.
# Die sangeres, humanitêre voorstaander en stigter van die Princess of Africa-stigting, Yvonne Chaka Chaka, pleit by burgers om gesinne te ondersteun wat geraak is deur die ernstige oorstromings in Limpopo en Mpumalanga. Talle inwoners het huise, werk en persoonlike besittings verloor en kinders kan nie skool toe gaan nie. Die stigting, in vennootskap met die holistiese welstandsorganisasie Above Normal, vra skenkings, maar Chaka Chaka sê hulle vra nie geld nie:
Intussen sê die Internasionale Rooi Kruis meer as 620-duisend mense is geraak en meer as 72-duisend huise oorstroom in wydverspreide vloede in Mosambiek. Skade is aangerig aan paaie, brûe en gesondheidsentrums in verskeie distrikte. Die Rooi Kruis se Program- en Bedryfsbestuurder, Rachel Fowler, het aan Reuters gesê dat reën steeds in die komende dae sal voortduur, en damme is reeds oorvol, dus kan die situasie vererger en nog mense in gevaar stel. Suid-Afrika het ‘n Lugmaghelikopter ontplooi om te help met reddingsoperasies.
# Tennis: Die verdedigende kampioen en tweede-gekeurde, Jannik Sinner, is maklik deur na die tweede ronde van die Australiese Ope. Die Italianer was twee stelle voor teen Hugo Gaston toe die Fransman weens ‘n besering onttrek het. Nog ‘n Fransman, Gael Monfils, het ‘n hartlike afskeid ontvang toe hy in die eerste ronde uitgeskakel is. Die 39-jarige het vroeër aangekondig dis sy laaste jaar op toer. Hy het in vier stelle teen die plaaslike kwalifiseerder Dane Sweeney verloor. Die agtste-gekeurde Amerikaner Ben Shelton het Ugo Humbert van Frankryk geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-102-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-731-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….