Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die tafel is gedek vir die SA20 se uitspeelrondes. Die eerste-geplaasde Sunrisers Eastern Cape gaan môre sake uitspook teen die tweede-geplaasde Pretoria Capitals in die eerste kwalifiseerder in Durban. Paarl Royals, wat derde is, kom Donderdag in Centurion teen Joburg Super Kings te staan in die uitskakelstryd. Die verloorder van die eerste kwalifiseerder en die wenner van die uitskakelstryd ontmoet Vrydag op die Wanderers in die tweede kwalifiseerder. Sondag se eindstryd op Nuweland in Kaapstad is tussen die wenners van môre en Vrydag se wedstryde.
Nog krieketnuus: Suid-Afrika het hul Onder 19-Wêreldbeker-veldtog weer op koers na ‘n oorwinning met 329 lopies oor Tanzanië in Windhoek, Namibië. Honderdtalle deur Jason Rowles en kaptein Mohammad Bulbulia het Suid-Afrika gehelp om 397 vir vyf te behaal, hul hoogste totaal in ‘n internasionale jeugwedstryd. Daarna het Rowles en Bayanda Majola elk twee paaltjies geneem en Tanzanië vir 68 uitgeboul in hul 33ste boulbeurt. Dis is ‘n perfekte herstel vir Suid-Afrika na hul nederlaag met 28 lopies teen die voorloper in Groep D, Afganistan.
# Rugby: Die Stormers verwag om verskeie groot name terug te verwelkom vir agtereenvolgende Verenigde Rugbykampioenskap-derbies teen die Haaie, onder andere Damian Willemse, Warrick Gelant, Cobus Reinach, Salmaan Moerat, Adré Smith, Jurie Mathee en Ruhan Nel. Moerat sal waarskynlik die kapteinskap terugneem nadat Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu die span gelei het tydens die naweek se tuiswedstryd in die Kampioenebeker teen Leicester Tigers. Die twee kuspanne ontmoet mekaar Saterdag in Kaapstad en ‘n week later in Durban.
# Netbal: Die Proteas se hoofafrigter, Jenny van Dyk, het haar span van 15 spelers bekendgemaak wat Engeland volgende week in Johannesburg in ‘n toetsreeks van drie wedstryde gaan pak. Dis die span se laaste internasionale wedstryde voor die Statebondspele in Glasgow. Suid-Afrika het ʼn suksesvolle Afrikabeker-veldtog in Lilongwe, Malawi, agter die rug waar hulle as kampioen gekroon is. Van Dyk sê deelname teen die wêreld se beste help hulle om te bepaal waar hulle staan, en om te groei en te verbeter.
# En laastens, sokker: Die Afrika-beheerliggaam CAF het gepaste optrede beloof ná die chaos tydens Sondag se eindstryd van die Afrikabeker-toernooi in Marokko. Lede van Senegal se span het die veld verlaat nadat die skeidsregter ‘n strafskop aan die gasheer toegeken het. Die span het eers na 20 minute teruggekeer en uiteindelik in bykomende tyd 1-0 gewen. Die president van die wêreldbeheerliggaam FIFA, Giovanni Infantino, veroordeel ook die voorval en sê spanne moet op die veld en binne die reëls meeding, want enigiets anders plaas die gees van die spel in gevaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….