Oggedkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig ‘n beperkte groeibasis stel die wêreldekonomie in gevaar. Die opwinding oor Kunsmatige Intelligensie gaan nie vir Suid-Afrika ‘n verskil beteken nie. Geopolitiek en ‘n reuseskuldlas bedreig die geringe uitbreiding terwyl die land onderpresteer.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig oor die gru-ongeluk tussen ‘n minibustaxi en ‘n vragmotor op die R-553 naby Vanderbijlpark gisteroggend. Veertien leerders is in die ongeluk dood wat gebeur het toe die taxi na bewering ‘n ander voertuig verbygesteek het. Die taxibestuurder het oorleef.
Tweedens skryf die webblad oor twee plaasaanvalle wat die naweek in die Vrystaat voorgekom het. In die eerste voorval is ‘n 72-jarige boervrou van Bultfontein ontvoer en vir ure in haar voertuig se kattebak gelaat. In die tweede voorval in Clocolan is ‘n 56-jarige boer by sy huis aangeval en ernstig aangerand.
En laastens is daar nuus oor die oorstromings in Mosambiek waar 620-duisend mense regstreeks geraak is met 72-duisend huise wat oorstroom is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf eerstens ook oor die ongeluk naby Vanderbijlpark waarin 14 leerders omgekom het. Die koerant berig daar word ondersoek ingestel na die bestuurder van die voertuig.
En tweedens word berig die familie van die Ekurhuleni burgemeesterskomiteelid, Andile Mngwevu wat vermis is nadat sy voertuig in Mosambiek weggespoel het, sê hulle is steeds hoopvol dat sy liggaam gevind sal word.
# Sowetan:
Berig dit is ouers se grootste vrees om te hoor jou kind was in ‘n ongeluk op pad skool toe. Die koerant skryf na aanleiding van die gru-ongeluk op die R-553 naby Vanderbijlpark oor die gevare van skoolvervoer.
# En The Citizen:
Skryf president Cyril Ramaphosa se swaer, die skatryk mynmagnaat en sokkerbaas Patrice Motsepe, sal volgens kenners nie in staat wees om die ANC te red nie. Die party is inherent verrot en ‘n miljardêr se gesig gaan nie ‘n verskil maak nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die moord op die 77-jarige Piet de Koker toe hy sy seun se graf in die begraafplaas by Onder-Pappegaaiberg in Stellenbosch besoek het.
En tweedens skryf die koerant Knysna is tot plaaslike rampgebied verklaar as gevolg van die waterkrisis in die munisipaliteit.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig onderwysbeamptes sê sommige leerders moes reeds teen die begin van die 2026-skooljaar onder uiters moeilike omstandighede met hul klasse begin.
En tweedens skryf die koerant oor eerwaarde Alan Hendrickse wat 40 jaar gelede uit protes in die see op die “slegs blankes” Koningstrand geswem het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die KwaZulu-Natalse Departement van Gesondheid het erken daar is gevalle waar pasiënte met Bilharzia sonder medisyne weggewys word by hospitale.
En tweedens word berig oor ‘n gevangene wat uiters goed presteer het in die matriekeksamen.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar is geen genade betoon tydens die vonnisoplegging van die vrouemoordenaar Robert Marlo McNab nie. Regter Marilize du Plessis het hom lewenslank tronk toe gestuur.
Tweedens skryf die koerant die families van die drie vermoorde meisies van Okahandja soek steeds antwoorde. Die moorde is die afgelope maand gepleeg en daar bestaan vrese oor die moontlikhid van ‘n reeksmoordenaar.
En laastens is daar nuus oor die aanstelling van Nangula Nelulu Uaandja as nuwe uitvoerende direkteur van Emeraldsand Platforms.