Nuus 06:00
BULLETIN 20 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa belowe ‘n allesomvattende benadering tot weerrampe
# COSATU ondersteun fluitjieblaserbeskerming in die voorgestelde Wetsontwerp op Openbare Verkryging
# En krieket: Suid-Afrika is terug op die wenpad in die Onder 19-Wêreldbeker
# President Cyril Ramaphosa sê die nasionale regering sal die vloedgeteisterde Mpumalanga op elke moontlike manier bystaan. Hy het gister die Nkomazi-munisipaliteit besoek om die omvang van die skade wat deur die oorstromings veroorsaak is en die regering se reaksie daarop te bepaal. Die Nasionale Rampbestuursentrum het na die gure weer wat Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap geteister het, amptelik ‘n nasionale ramp verklaar. Ramaphosa het ‘n allesomvattende benadering tot weerverwante rampe belowe:
# Business Leadership South Africa sê die sluiting van British American Tobacco se enigste Suid-Afrikaanse fabriek demonstreer die ernstige uitwerking van onwettige handel. Die fabriek, wat teen lae kapasiteit bedryf word, sal vanjaar sy deure sluit, met die verlies van 230 direkte poste en duisende ander in die voorsieningsketting wat bedreig word. Die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê in haar weeklikse nuusbrief 75-persent van die mark bestaan tans uit onwettige sigarette, wat die regering 30-miljard-rand per jaar kos en georganiseerde misdaad befonds. Mavuso vra die regering om invoerbeheer te verskerp en om werksgeleenthede en plaaslike vervaardiging te beskerm.
# COSATU het ActionSA se voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Openbare Verkryging verwelkom. Die wetsontwerp is daarop gemik om die Wet op Beskermde Bekendmakings en die Wet op Openbare Verkryging te hersien. Matthew Parks van COSATU verwelkom aansporings vir verklikkers, wat 15- tot 25-persent van herwonne staatsbates insluit, asook sterker beskerming teen viktimisering en strenger strawwe vir intimidasie. Hy dring aan op regeringsgesprekke om die wetsontwerp met die uitvoerende wet te kombineer, om ‘n omvattende raamwerk te skep ten einde staatskaping en korrupsie te bestry en beskerming te bied aan diegene wat hul lewens vir geregtigheid waag.
# Die MK-party verbind die tragiese leerdervervoerongeluk in Vanderbijlpark in Gauteng met uitdagings rondom skoolplasings en onveilige vervoeropsies. Dertien leerders is in die ongeluk dood en verskeie ander is in ‘n kritieke toestand. Die party sê baie kinders word gedwing om lang afstande te reis om skole buite hul gemeenskappe by te woon, en maak staat op ongelisensieerde en onveilige voertuie. Die MK-woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela het steun aan hierdie gesinne belowe terwyl hy aanspreeklikheid eis van diegene wat verantwoordelik is:
# Die Russiese president Vladimir Putin is genooi om by sy Amerikaanse eweknie, Donald Trump, se Raad vir Vrede aan te sluit, wat toesig sal hou oor die heropbou van Gaza. Putin se woordvoerder, Dmitry Peskov, sê die uitnodiging is via diplomatieke kanale gerig. Die raad is ’n belangrike stap in die Verenigde Nasies-gesteunde Amerikaanse plan om Gaza te demilitariseer en te herbou. Die komitee sal ook die voormalige Britse premier Tony Blair, die Kanadese premier Mark Carney en die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio insluit. Die presidente van Turkye, Argentinië en Egipte het ook uitnodigings ontvang.
# Krieket: Suid-Afrika het hul Onder 19-Wêreldbekerveldtog weer op koers na ‘n oorwinning met 329 lopies oor Tanzanië in Windhoek. Honderdtalle deur Jason Rowles en kaptein Mohammad Bulbulia het Suid-Afrika gehelp om 397 vir vyf te behaal, hul hoogste totaal in ‘n internasionale jeugwedstryd. Daarna het Rowles en Bayanda Majola elk twee paaltjies geneem en Tanzanië vir 68 in 32 boulbeurte en twee balle uitgeboul. Dis ‘n perfekte herstel vir Suid-Afrika na hul nederlaag met 28 lopies teen die Groep D-leiers Afghanistan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-460-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-670-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….