Nuus 16:00
BULLETIN 19 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Dialoog se reëlingskomitee moet die dialoogproses se integriteit beskerm
# Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika kritiseer swart ekonomiese bemagtiging as skadelik vir Suid-Afrika
# En rugby: Die Bulle, die Stormers en die Haaie kwalifiseer vir Europese uitspeelwedstryde
# Die uitvoerende direkteur van die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad, Makhukhu Mampuru, sê dis belangrik dat die Nasionale Dialoog, wat Suid-Afrika se uitdagings moet hanteer, slaag. Die bekendstelling van die dialoog se reëlingskomitee het gister in Pretoria plaasgevind. Mampuru sê die komitee se rol is om die integriteit van die proses te beskerm, betekenisvolle deelname te verseker, en toesig te hou oor ‘n geleidelike instellingsproses van dialoogvoering in provinsies:
# Die uitvoerende hoof van die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika, Gerhard Papenfus, sê die rasgebaseerde swart ekonomiese bemagtigingsbeleid bevoordeel slegs ‘n paar polities-verbonde mense en benadeel die breër bevolking. Hy beskryf dit as bedrieglik, wat ‘n vinnig-rykword-denkwyse bevorder, entrepreneurskap ondermyn en enorme ekonomiese onkoste meebring. Papenfus waarsku SEB moedig afhanklikheid, gierigheid, misdaad en swak aandeelhouding aan. Hy verwerp bewerings dat die bevraagtekening hiervan wit oppergesag bevorder en vra volhoubare welvaartskepping en beleide wat Suid-Afrika se ekonomiese groei ondersteun.
# Kaapstad sê brandstatistiek vir die afgelope agt weke toon ʼn jaar tot jaar toename in veld- en huisbrande. In vergelyking met die vorige jaar het brande in die verskillende kategorieë met tussen vyf- en 16-persent toegeneem. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê tussen 1 Desember en 15 Januarie was daar drie-duisend-492 veldbrande, 332 in plakkerskampe en 244 in ander woongebiede:
# Rugby: Die Stormers en die Bulle gaan in April deelneem aan die Kampioenebeker se ronde van 16, terwyl die Haaie aan die uitspeelwedstryde van die Uitdaagbeker sal deelneem. Die Bulle se bonuspunt-oorwinning van 26-24 oor Pau in Frankryk het die span se plek teen Glasgow Warriors in Skotland verseker, terwyl die Stormers se oorwinning van 39-26 oor Leicester Tigers in Kaapstad gesorg het dat hulle ‘n uitspeelplek teen Toulon in Frankryk kry. Die Haaie se vyfde plek in hul groep het ‘n uitspeelwedstryd in die Uitdaagbeker teen Connacht verseker.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-65-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-669-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Noordwes-Universiteit het die eerste Suid-Afrikaanse universiteit geword om ‘n amptelike beleid oor kunsmatige intelligensie aan te neem. Die universiteitsraad het die beleid tydens sy jongste vergadering goedgekeur, wat die instelling posisioneer as ‘n KI-leier in hoër onderwys. Anné Verhoef van die KI-sentrum sê die beleid bevorder mensgesentreerde, etiese en verantwoordelike gebruik van KI in onderrig, navorsing en bestuur. Die raamwerk verduidelik die rolle van belanghebbendes, vestig inligtingstegnologie-gerigte bestuur en gee aandag aan volhoubaarheidskwessies. Verhoef beklemtoon dit stel ‘n nasionale maatstaf vir die aanvaarding van verantwoordelike kunsmatige intelligensie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….