Nuus 15:00
BULLETIN 19 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa beloof strenger wetstoepassing te midde van geweld in Kaapstad
# Die Menseregtekommissie verbind skoolvervoer-mislukkings in Noordwes met gebrekkige bestuur
# En motorsport: Hamilton kry ‘n nuwe wedren-ingenieur nadat Ferrari Adami verskuif
# President Cyril Ramaphosa het diepe hartseer uitgespreek oor onlangse tragedies in Suid-Afrika, insluitend die 26 mense wat die naweek dood is in geweldpleging op die Kaapse Vlakte in Kaapstad. Hy het meegevoel betuig met die betrokke gesinne, en regeringsoptrede beloof om burgers te beskerm. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die regering verhoog polisie-teenwoordigheid, en moedig gemeenskapsamewerking aan:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het ernstige gebreke in bestuurs- en verantwoording in Noordwes se skoolvervoer-program uitgelig. Kommissaris Nomahlubi Khwinana sê ingewortelde tekortkominge in die Departemente van Gemeenskapsveiligheid en Vervoer en van Onderwys bly ‘n uitdaging. Sy noem ook die provinsiale Tesourie se swak finansiële toesig, insluitend betalings van meer as ‘n miljard-rand vir dienste wat nie gelewer is nie, swak kontrakbestuur en beleidsgapings:
# Noordwes-universiteit beleef ‘n toelatingskrisis met duisende kwalifiserende eerstejaar-aansoekers wat weggewys word. Volgens die universiteit is daar slegs elf-duisend-800 plekke vir eerstejaarstudente terwyl meer as 420-duisend aansoeke vir die agt fakulteite op drie kampusse ontvang is. Die universiteit waarsku baie aansoekers wat vir toelating kwalifiseer, moet weggewys word. Voorwaardelike toelating sal binnekort bekendgemaak word, maar geen instap-aansoeke sal aanvaar word nie. Die universiteit waarsku aansoekers om versigtig te wees vir mense wat plasing in ruil vir betaling aanbied.
# Sakeliga beskuldig die Ekurhuleni-munisipaliteit in Gauteng dat hy vergoeding vir die plaas Driefontein ontduik, wat in 2019 onteien en teen meer as 30-miljoen-rand gewaardeer is. Woordvoerder Piet le Roux sê die ANC-beheerde stad het aanvanklik probeer om die plaas sonder vergoeding te onteien en vra nou ‘n hofhersiening om die besluit van 2018 te herroep, wat die verhoor van 2 Februarie vertraag. Hy sê dit verhoog regskoste en ondermyn eiendomsregte:
# Motorsport: Die sewemalige Formule Een-wêreldkampioen, Lewis Hamilton, kry hierdie seisoen ʼn nuwe wedren-ingenieur nadat Ferrari aangekondig het hulle verskuif Riccardo Adami na ʼn ander rol. Hamilton, wat verlede seisoen van Mercedes by Ferrari aangesluit het, ontken berigte dat hy en Adami verskille het. Dit volg ná kortaf radio-gesprekke tydens die openingswedren in Australië. Die ongemaklike kommunikasie het voortgeduur tot aan die einde van die seisoen. Hamilton het ʼn loopbaan-laagtepunt beleef en die hele seisoen nie een keer die podium gehaal nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-59-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-663-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….