Nuus 13:00
BULLETIN 19 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Elf leerders sterf op pad skool toe in Vanderbijlpark
# Die Krugerwildtuin stel ‘n verligtingsfonds bekend ná die vloedskade
# En tennis: Die voormalige kampioen Stanislas Wawrinka bereik die tweede ronde in Melbourne
# Elf leerders is dood en vyf is in ‘n bedenklike toestand ná ‘n botsing vanoggend in Vanderbijlpark, Gauteng. Die provinsiale Onderwysdepartement se voorlopige verslae dui aan ‘n vragmotor het gebots teen ‘n voertuig wat leerders vervoer. Nooddienste is steeds besig om die toneel te fynkam en verskaf nood-mediese dienste. Ondersoeke na die oorsaak van die ongeluk duur voort.
# Die Krugerwildtuin het ‘n verligtingsfonds bekendgestel om beskadigde infrastruktuur te herstel ná swaar reënval. Volgens die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, sal ʼn onafhanklike ouditeur die fonds bestuur. Hy vra korporatiewe instellings om dit te ondersteun. Aucamp het ook die wildtuin se bestuur geloof wat gaste en personeel veilig laat ontruim het sodat daar geen lewensverliese was nie.
# Brandbestryders van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit het goeie vordering gemaak met die brand by La Motte in Franschhoek. Die brand het Saterdagmiddag uitgebreek en verskeie strukture bedreig. Die munisipaliteit se woordvoerder, Anesca Roodt, sê brandbestrydingspogings was hoofsaaklik gefokus op die beskerming van strukture:
# Eskom sê opwekkingsvermoë van twee-duisend-en-70 megawatt sal voor spitstyd vanaand weer in diens geneem word om ‘n bestendige elektrisiteitstoevoer deur die week te handhaaf. Woordvoerder Daphne Mokwena sê gemiddeld vyf-duisend-362 megawatt was beplande instandhouding, wat 11,4-persent van die opwekkingsvermoë is. Sy sê dit is effens meer as verlede week se 11,34-persent, maar minder as die 12,37-persent oor dieselfde tydperk verlede jaar:
# Tennis: Die Switserse veteraan, Stanislas Warwinka, het die horlosie teruggedraai toe hy Laslo Djere van Serwië in die eerste ronde van die Australiese Ope verslaan het, presies 20-jaar nadat hy sy buiging gemaak het. Die 40-jarige voormalige wêreld-nommer-drie het in vier stelle gewen voor ‘n luidrigtige skare wat sy oorwinning gevier het asof hy die toernooi gewen het. 2014 se kampioen neem as promotorskeuse in Melbourne deel. Wawrinka se ander twee Grand Slam-titels was op die Franse Ope in 2015 en die Amerikaanse Ope die jaar daarna.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-39-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-670-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….