Nuus 12:00
BULLETIN 19 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Elf leerders sterf op pad skool toe in Vanderbijlpark
# Bestuur hef beperkings op in die suidelike deel van die Krugerwildtuin
# En sokker: CAF se president, Patrice Motsepe, stel die jaarlikse Afrika-Nasiesliga bekend
# Elf leerders is dood en vyf is in ‘n bedenklike toestand ná ‘n botsing vanoggend in Vanderbijlpark, Gauteng. Die provinsiale Onderwysdepartement se voorlopige verslae dui aan ‘n vragmotor het gebots teen ‘n voertuig wat leerders vervoer het. Nooddienste is steeds besig om die toneel te fynkam en verskaf nood-mediese dienste. Ondersoeke na die oorsaak van die ongeluk duur voort.
# Die Krugerwildtuin heropen vandag sy suidelike toegangshekke vir dagbesoekers nadat dit verlede week tydelik gesluit is weens ernstige oorstromings. Besoekers kan nou by die Paul Kruger-, die Numbi-, die Malelane- en die Phabeni-hek ingaan, maar word gewaarsku om versigtig te wees op die grondpaaie. Die noordelike deel van die wildtuin bly gesluit tot belangrike paaie en brûe herstel is.
Intussen het die regering die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag na die vloedgeteisterde Mosambiek ontplooi om saam met plaaslike rampagentskappe te werk onder Operasie Chariot. ‘n Oryx-helikopter en ‘n spesialis-soek-en-reddingspan is ook gestuur. Die Weermag sê die ontplooiing volg terwyl soek-en-reddingsoperasies in Limpopo en Mpumalanga voortduur na dodelike oorstromings. Die regering sê nog lugsteun sal ontplooi word indien nodig.
# Sokker: Die president van die Konfederasie van Afrikasokker, Patrice Motsepe, het amptelik die nuwe Afrika-Nasiesliga bekendgestel, met 54 deelnemende lande. Die toernooi, wat in een land aangebied sal wor tussen FIFA-toernooie, sal sone-kompetisies insluit met wenners wat sal deurdring na die eindstryd. Motsepe het onderneem om skeidregters te verbeter en respek vir alle nasies te verseker. Hy sê die liga poog om Afrika deur sokker te verenig met aansien soortgelyk aan die Afrikabekertoernooi:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-901-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-667-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Standard Bank se hoof van Bedrogklagtebestuur en -bewustheid, Riyadh Mahomed, sê Januarie se finansiële druk veroorsaak ‘n toename in bedrog, aangesien bedrieërs mense teiken wat hul finansies probeer verbeter. Hy sê daar is ‘n toename in bedrieglike lenings, uitvissing en ander slenters. Mahomed moedig kliënte aan om waaksaam te bly, aanbiedinge deur amptelike kanale na te gaan en enige verdagte bedrywighede aan te meld om hulself te beskerm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….