Nuus 09:00
BULLETIN 19 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA vra ‘n ondersoek na die verontagsaming van president Ramaphosa se opdrag
# Minister Gwarube gaan vandag Eldorado Park besoek om skoolveiligheid te beklemtoon
# En die Kanadese premier sê Groenland se toekoms is ’n besluit vir Denemarke en Groenland
# ActionSA sê hy verwerp die minister van Verdediging, Angie Motshekga, se raad van ondersoek om Iran se deelname aan die BRICS-vlootoefening in Kaapstad te ondersoek. President Cyril Ramaphosa het opdrag gegee dat Iran moet onttrek nadat die Amerikaanse ambassade hom in kennis gestel het dat Washington Iran se deelname in ‘n swak lig sal beskou. ActionSA-woordvoerder Lerato Ngobeni sê berigte dui op ʼn gekoördineerde en doelbewuste versuim om ʼn regstreekse opdrag van die president in sy hoedanigheid as opperbevelhebber uit te voer:
# Die MK-party sê hy verwerp die uitsprake van oudpresident Thabo Mbeki wat poog om die party uit te beeld as ‘n skepping van teen-rewolusionêre magte wat na bewering gewortel is in apartheidsera-veiligheidstrukture. Die party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê Mbeki se standpunt word nie deur bewyse ondersteun nie, maar is ‘n plan om te verhoed dat hy die politieke werklikheid konfronteer dat miljoene Suid-Afrikaners bewustelik toestemming van die ANC onttrek het. Hy sê die MK-party is nie ‘n gedwonge projek nie, maar ‘n demokratiese gevolg.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sal vandag ‘n Terug-Skool-Toe-veldtog by Eldorado Park Secondary School in Gauteng lei. Die fokus word geplaas op veiligheid, teen-boeliegedrag en die voorkoming van geslagsgeweld in skole. Die departementele woordvoerder, Terence Khala, sê die minister se besoek beklemtoon die regering se verbintenis om te verseker dat skole veilige, inklusiewe ruimtes is wat onderrig en leer bevorder:
# Die Kanadese premier Mark Carney sê sy land sal altyd die soewereiniteit en gebiedsintegriteit van lande, insluitend Groenland, ondersteun. President Donald Trump het herhaaldelik daarop aangedring dat Amerika Groenland moet verkry vir nasionale veiligheid en om te verhoed dat Rusland of China beheer kry. Hy het ook gedreig om nuwe tariewe op agt Europese lande te hef as hulle sy voorgestelde oorname van Groenland teenstaan. Carney sê die besluit oor wie Groenland besit, behoort nie aan Trump nie:
# Krieket: Die Sunrisers Eastern Cape het die verdedigende kampioene, MI Cape Town, met sewe paaltjies verslaan in hul SA20-kragmeting in Gqeberha. Reeza Hendricks se onoorwonne 70 het MI Cape Town 148 vir ses besorg. Daarna het Quinton de Kock en Matthew Breetzke ʼn vennootskap van 109 om die tweede paaltjie gedeel en die Sunrisers het die teiken bereik met een bal oor. Die Sunrisers het onder die top-twee klaargemaak en MI Cape Town uitgeskakel wat met ʼn bonuspunt moes wen om ʼn kans te staan om die uitspeelronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-612-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-659-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….