Nuus 08:00
BULLETIN 19 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana lei Suid-Afrika se afvaardiging na die Wêreld Ekonomiese Forum
# Die soektog na die vermiste Ekurhuleni-burgemeesterskomiteelid duur voort in Mosambiek
# En sokker: Senegal word vir die tweede keer as AFCON-kampioene gekroon
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, lei Suid-Afrika se afvaardiging na die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland. Die forum vergader van vandag tot Vrydag en die tema is “’n Gees van Dialoog”. Godongwana word vergesel van minister Ronald Lamola, Kgosientsho Ramokgopa, Patricia de Lille en Stella Ndabeni. Die Nasionale Tesourie sê die afvaardiging sal Suid-Afrika se verbeterde ekonomiese posisie voorstel wat weerspieël word in die versterking van beleggersvertroue en positiewe momentum in die instelling van ekonomiese hervorming. Hy sê die land sal voorgestel word as ʼn goeie keuse vir globale beleggers.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, verwelkom die afkondiging van ʼn nasionale ramptoestand ná gure weerstoestande en wydverspreide oorstromings in dele van die land. Sedert laat Desember het swaar reën en oorstromings dele van Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Noordwes getref. Die minister se woordvoerder, Pearl Maseko-Binqose, sê dis noodsaaklik om voldoende hulpbronne vir hulp- en herstelpogings beskikbaar te stel:
# Die soek- en reddingspogings na Ekurhuleni se burgemeesterskomiteelid vir Paaie en Vervoer, Andile Mngwevu, en drie ander in Mosambiek is verskerp. Dit volg nadat die voertuig waarin hulle gereis het, Saterdag deur vloedwater in die Chokwé-gebied meegesleur is. Vyf mense was oorspronklik in die voertuig, maar een het daarin geslaag om te ontsnap. Ekurhuleni se woordvoerder, Phakamile Mbengashe, sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag help met die soektog:
# Minstens 21 mense is dood en meer as 70 beseer nadat twee sneltreine naby die dorp Adamuz naby die stad Cordoba in Spanje ontspoor het. Volgens die Spoorweginfrastruktuur-administrateur het die ongeluk gebeur toe ʼn sneltrein op pad van Malaga na Madrid ontspoor en op die spoor langsaan beland het waarop ʼn trein van Madrid na Huelva op pad was. Dit het veroorsaak dat die tweede trein ook ontspoor. Owerhede waarsku dat die dodetal kan styg.
# Sokker: Senegal het Marokko in ekstra tyd met 1-0 geklop en hul tweede Afrikabekertoernooi-titel opgeraap. Die eindstryd is in omstredenheid gehul nadat Senegal-spelers van die veld gestap het toe die gashere ʼn omstrede strafskop in beseringstyd gekry het met die telling op nul-elk. Na aanmoediging deur Sadio Mane, het die Senegalese in die 20ste minuut van beseringstyd teruggekeer en Brahim Diaz se strafdoel is deur doelwagter Edouard Mendy gekeer. In die wedstryd se ekstra tyd het Pape Gueye se doel Senegal se oorwinning beklink.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-527-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-660-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….