Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Sasol se aandele het skerp gedaal na die afgradering deur JPMorgan oor ‘n ernstige valutarisiko vir die petroleummaatskappy.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die agtjarige Naledi Ramaisa se liggaam is naby haar huis in Matwabeng in Senekal gevind nadat sy Dinsdag vermis geraak het. ‘n Sestienjarige plaaslike seun is in hegtenis geneem nadat hy haar glo doodgeslaan het omdat sy na bewering perskes gesteel het.
Dan skryf die webblad die regering het gister ‘n nasionale ramp afgekondig in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Noordwes na aanleiding van die verwoestende oorstromings en gure weer sedert November verlede jaar.
En laastens is daar nuus oor ‘n brandbestryder van CapeNature wat beseer is toe sy Saterdag ‘n brand in Stettynskloof tussen Franschhoek en Du Toitskloof bestry het.
GAUTENG:
# Sowetan:
Berig ook oor die nasionale ramp wat afgekondig is om die provinsies by te staan om die vloedskade te hanteer.
# En The Citizen:
Skryf Iran se voortgesette deelname aan die BRICS-vlootoefening en die beweerde ignorering van president Cyril Ramaphosa se opdrag hieroor word nou op die skouers van die SANW en die hoof van die Vloot geplaas. ‘n Ondersoek is van stapel gestuur oor die insident wat tot verdere diplomatieke probleme met die VSA gelei het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die DA eis dat daar opnuut ondersoek ingestel word na die buitensporige verhoogde salaris van die sekretaris van die Parlement, Xollie George. Sy salaris beloop nou byna vyf-miljoen-rand per jaar.
En tweedens skryf die koerant ook oor die nasionale ramp wat in vyf provinsies verklaar is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Good Year-aanleg in Kariega is in die mark en die stap het die hoop van honderde werknemers dat die bandemaatskappy weer gaan sake doen, laat vervaag.
En tweedens skryf die koerant oor die haglike omstandighede in die eens baie gewilde Happy Valley-speelpark in Gqeberha.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Suid-Afrika wil die bloed-alkoholvlak vir drink en bestuur afbring na nul om sodoende die padsterftes as gevolg van alkoholverbruik uit te skakel.
En tweedens word berig daar is toenemende kommer oor leerders wat messe by hulle dra.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die onderwysministerie sê die langdurige verwarring oor sogenaamde graad 11-kwalifikasies en toegang tot gesubsidieerde tersiêre onderwys moet nou ten einde loop.
En tweedens skryf die koerant pogings deur Swapo en die Verenigde Nasies om voormalige Namibiese vlugtelinge gerus te stel dat geen fondse ná hul repatriasie in 1989 misbruik of teruggehou is nie, blyk tot dusver ’n mislukking te wees.