Nuus 07:00
BULLETIN 19 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA wil antwoorde hê oor die oënskynlike verset teen president Ramaphosa se bevel
# Minister Hlabisa verwelkom die afkondiging van ‘n nasionale ramp in vyf provinsies
# En rugby: Die Springbok-vroue sewesrugbyspan word as die kampioene gekroon in Dubai
# Die DA vra ‘n dringende parlementêre debat nadat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag blykbaar president Cyril Ramaphosa se opdrag oor die 2026 Will for Peace-oefening geïgnoreer het. Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, het ʼn raad van ondersoek aangestel om te bepaal waarom Ramaphosa se opdrag om Iran aan die multinasionale vlootoefening in Valsbaai, Kaapstad, te onttrek, nie uitgevoer is nie. DA-woordvoerder Chris Hattingh sê Iranse vaartuie het deelgeneem, ten spyte van die president se bevel:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, verwelkom die afkondiging van ʼn nasionale ramptoestand ná gure weerstoestande en wydverspreide oorstromings in dele van die land. Sedert laat Desember het swaar reën en oorstromings dele van Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Noordwes getref. Die minister se woordvoerder, Pearl Maseko-Binqose, sê dis noodsaaklik om voldoende hulpbronne vir hulp- en herstelpogings beskikbaar te stel:
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sê intussen die publiek moet gehoor gee aan owerhede se ontruimingsbevele en veiligheidswaarskuwings, na die verwoestende oorstromings. Die kommissie beskryf die lewensverlies wat tans op 31 staan as kommerwekkend. Hy sê die gevolge bedreig basiese grondwetlike regte, soos die reg op lewe, waardigheid en toegang tot basiese dienste. Die kommissie vra groter waaksaamheid terwyl reddingspogings voortgaan.
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê die strategie-sessie vir naskoolse onderwys en opleiding het onthul die stelsel is onder groot druk, maar het baie moontlikhede. Manamela het ná die vergaderings in Kaapstad ekonomiese beperkinge, jeugwerkloosheid, vinnige tegnologiese veranderinge en klimaat-uitdagings as probleme uitgelig. Hy vra bepalende optrede, sterker beheer, gekoördineerde internasionale vennootskappe en ʼn geïntegreerde, student-gesentreerde benadering om seker te maak die stelsel is geskik vir die toekoms.
# Israel se minister van Finansies, Bezalel Smotrich, verwerp ʼn Amerikaans-ondersteunde plan oor naoorlogse bestuur in Gaza. President Donald Trump van Amerika het die sogenaamde “raad van vrede” vir Gaza aangestel wat tydelik moet toesig hou oor die bestuur en heropbou van Gaza. Die raad is deel van Trump se 20-punt plan om die oorlog in Gaza te beëindig. Smotrich kritiseer eerste minister Benjamin Netanyahu omdat hy nie die Palestynse gebied annekseer en nuwe Israelse nedersettings daar vestig nie. Hy sê Netanyahu se onwilligheid om verantwoordelikheid vir Gaza te neem, is die oorspronklike sonde.
# Rugby: Die Springbok-vrouesewes-rugbyspan is gister as kampioene van die eerste Wêreldrugby Sewes 3-toernooi in Dubai gekroon, nadat hulle Argentinië met 12-5 in die eindstryd geklop het. Suid-Afrika het die toernooi onoorwonne afgesluit en vir die Sewes 2-reeks gekwalifiseer. Die Tsjeggiese Republiek het Pole met 24-14 gewen om die derde en laaste plek op die podium te behaal. Bok-afrigter Cecil Afrika het sy span se verdediging dwarsdeur die naweek geprys:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-699-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-660-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….