Nuus 06:00
BULLETIN 19 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Gure weerstoestande en wydverspreide oorstromings lei tot ‘n nasionale ramp in vyf provinsies
# RISE Mzansi steun die uitbreiding van Tesourie se aanlyn dobbelbelasting
# En Brittanje en sy Europese bondgenote waarsku teen Trump se Groenland-dreigemente
# Die regering het die dodelike wydverspreide oorstromings in vyf provinsies tot ‘n nasionale ramp verklaar. Die Nasionale Rampbestuursentrum sê dit is na beoordeling van die omvang en erns van die gure weer wat gelei het tot skadelike oppervlakwinde, swaar reënval en oorstromings vanaf laat Desember 2025 in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en Noordwes. Die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê alle staatsorgane oor die drie regeringsfere moet nou ondersteuning aan rampbestuurstrukture verleen.
Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Regerings, SALGA, vra intussen versnelde nasionale optrede om munisipaliteite te ondersteun wat toenemend klimaat-verwante rampe beleef. Onlangse oorstromings, storms en veldbrande het eiendomme en mense se lewensbestaan vernietig, en meer as 30 lewens geëis. Die voorsitter van SALGA se werksgroep vir nooddienste en rampbestuur, Mluleki Nkosi, waarsku verouderde stelsels laat munisipaliteite met te min hulpbronne. Hy vra gemoderniseerde rampbestuur en opgradering van infrastruktuur, vroeë-waarskuwingstelsels, identifisering van risiko-gebiede en gemeenskapsopvoeding:
# RISE Mzansi het die Nasionale Tesourie se besluit verwelkom om die sperdatum vir openbare kommentaar oor die voorgestelde aanlyn dobbelbelasting van 30 Januarie tot 27 Februarie 2026 te verleng. Die party doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om kommentaar te lewer op die hervormings wat bedoel is om die dobbelbedryf se impak op lewens en lewensonderhoud aan te spreek. Makashule Gana van RISE Mzansi het die behoefte aan sterker regulasies beklemtoon. Hy waarsku dat dobbelary nog nooit voorspoed geskep het nie en dat hervormings noodsaaklik is om gemeenskappe te beskerm:
# Gauteng se LUR vir Landbou, Vuyiswa Ramakgopa, sê dringende maatreëls word gevolg om bek-en-klouseer te beperk. Daar is tans 173 gerapporteerde gevalle met Germiston, oos van Johannesburg, wat die swaarste getref is. Die uitbreking is kommerwekkend vir die veebedryf op nasionale vlak. Die minister van Landbou, John Steenhuisen, blameer entstoftekorte, swak grensbeheer en onderrapportering vir die probleem. Ramakgopa sê Gauteng het 16-miljoen-rand herlei om entstowwe aan te koop en beheer oor die beweging van vee te verskerp. Sy doen ‘n beroep op boere om biosekuriteit te versterk.
# Agt Europese lande sê die dreigemente van president Donald Trump teen Groenland ondermyn transatlantiese betrekkinge en waag ‘n gevaarlike afwaartse spiraal. Trump sê hy oorweeg dit om tariewe in te stel teen lande wat ‘n Amerikaanse oorname van Groenland teenstaan. In ‘n gesamentlike verklaring sê die leiers van Denemarke, Finland, Frankryk, Duitsland, Nederland, Noorweë, Swede en Brittanje dat hulle in volle solidariteit met Denemarke en die mense van Groenland staan. Hulle sê hulle is gereed om ‘n dialoog te voer volgens beginsels van soewereiniteit en territoriale integriteit.
# Tennis: Wêreldnommer een, Carlos Alcaraz van Spanje, het sy veldtog vir die voltooiing van sy loopbaan-Grand Slam by die Australiese Ope begin met ‘n oorwinning oor die plaaslike speler, Adam Walton. Die derde gekeurde Duitser Alexander Zverev het die Kanadees Gabriel Diallo geklop, en daar was ook oorwinnings vir Brittanje se Cameron Norrie en die Amerikaner Frances Tiafoe. In die vroue-afdeling het die top-gekeurde Aryna Sabalenka van Belarus die Franse promotorskeuse, Tiantsoa Rakotomanga Rajaonah geklop, terwyl die sewemalige major-enkelspelkampioen, Venus Williams en die Russiese elfde gekeurde Ekaterina Alexandrova uitgeskakel is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-250-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-669-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….