Nuus 13:00
BULLETIN 18 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Thabo Mbeki maan die ANC om die Nasionale Dialoog te beskerm ten spyte van geskille
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku teen nog gure weer in vier provinsies
# En, Eskom word vir die tweede jaar as topwerkgewer aangewys
# Oudpresident Thabo Mbeki sê die ANC moet seker maak die Nasionale Dialoog gaan voort ten spyte van politieke geskille. Dit volg na die bekendstelling van 99 lede van die Nasionale Dialoog se reëlingskomitee in Pretoria. Mbeki het in Bloemfontein gewaarsku teenrewolusionêre magte is teen die dialoog gekant omdat dit die massas in staat stel om sonder intimidasie oor die land se toekoms te besluit. Hy sê Suid-Afrikaners moenie deur eng belange voorgeskryf word nie:
# Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, ondersoek die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, ná sy besluit om Suid-Afrika se amptelike inskrywing aan die 2026 Venesiese Biënnale te onttrek. Leah Potgieter van die DA het ‘n klag ingedien en sê die besluit is óf wanadministrasie óf magsmisbruik. McKenzie sê die onttrekking is weens kommer oor vermeende buitelandse befondsing en geopolitieke invloed. Die Venesiese Biënnale duur van 9 Mei tot 22 November in Italië en gaan oor eietydse kuns en kultuur.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku dat gure weer sal voortduur in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Gauteng. Ontwrigtende reënval en hewige donderstorms word verwag, en oranje en geel waarskuwingsvlakke is uitgereik vir oorstromings, vinnig vloeiende strome, modderstortings en infrastruktuur-skade. Limpopo en Mpumalanga sal die swaarste getref word met moontlike lewensverlies en skade aan infrastruktuur. Inwoners word aangeraai om waaksaam te bly en oorstroomde gebiede te vermy. Die weerdiens waarsku ook teen ʼn groter brandgevaar in dele van die Vrystaat en die oostelike dele van die Noord-Kaap.
# Uganda se president Yoweri Museveni het sy sewende ampstermyn beklink en sal nou vier dekades regeer. Die verkiesingskommissie sê die 81-jarige president het 71,65-persent van die stemme in Donderdag se verkiesing behaal. Die opposisie se kandidaat, Bobi Wine, het 24,72-persent gekry en verwerp die uitslag. Verkiesingswaarnemers uit Afrika het kommer uitgespreek oor intimidasie, inhegtenisnemings en ontvoerings wat die opposisie teiken. Hulle sê hierdie optrede skep vrees en ondermyn openbare vertroue in die verkiesingsproses.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê Suid-Afrika gaan ʼn bod indien om die 2028 Afrikabekertoernooi aan te bied, en Namibië en Botswana as medegashere uitnooi. Hy het aan SABC Sport in Marokko gesê die bod ondersteun die regering se pogings om groot internasionale geleenthede te lok en ekonomiese groei te stimuleer. McKenzie het bygevoeg Suider-Afrika se sterk infrastruktuur plaas die streek in ʼn gunstige posisie. Die bod word voor die sperdatum op 1 Februarie verwag:
# En ten slotte, Eskom is deur die Top Employers Institute aangewys as ‘n topwerkgewer vir 2026. Dit is Eskom se tweede agtereenvolgende jaar as ontvanger van die gesogte erkenning. Die instituut evalueer organisasies teen internasionale standaarde oor mense-ontwikkeling, sorg en werkplekkultuur. Die uitvoerende hoof van die Eskom Groep, Dan Marokane, sê die aanwysing weerspieël die kragvoorsiener se verbintenis tot sterk menslike kapitaalpraktyke, uitnemendheid in die werkplek en die bou van ‘n toekomsgereed organisasie. Hy sê die erkenning bevestig pogings om ‘n omgewing te skep waar werknemers kan floreer en betekenisvol kan bydra.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….