Nuus 08:00
BULLETIN 18 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra die Nasionale Dialoog-bestuurskomitee om die geskiedkundige proses te lei
# Vloedskade in Mpumalanga word op R2,1-miljard beraam
# En rugby, die Stormers en die Sharks behaal Kampioenebeker-oorwinnings
# President Cyril Ramaphosa het aan die pas aangestelde lede van die Nasionale Dialoog-bestuurskomitee gesê hulle speel ‘n sentrale rol in een van Suid-Afrika se belangrikste demokratiese inisiatiewe. Ramaphosa het virtueel deelgeneem aan die komitee se inlywing en gesê die dialoog vind plaas te midde van reuse-uitdagings soos armoede, werkloosheid, misdaad, korrupsie en geslagsgeweld. Hy het beklemtoon dat dialoog deel is van Suid-Afrikaners en die inklusiewe proses geprys wat gebruik is om die komitee aan te stel:
# Die dodetal na gister se massaskietery in die Marikana informele nedersetting in Philippi-Oos het tot agt gestyg. Een van die slagoffers is ‘n vrou en twee ander mense is in ʼn bedenklike toestand. Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, Thembisile Patekile, sê die aanval het net na middernag by ʼn sjebien in Proteaweg plaasgevind en hou vermoedelik verband met ʼn afpersingsverwante misdaad. Die verdagtes word gesoek, maar niemand is nog gearresteer nie:
# Mpumalanga se premier, Mandla Ndlovu, sê volgens voorlopige beramings kan vloedskade aan infrastruktuur in die provinsie sowat 2,1-miljard-rand beloop. Swaar reën het 20 lewens geëis en meer as een-duisend-200 huishoudings geraak. Die meeste damme en riviere is vol wat tot oorstromings kan lei. Minstens vyf brûe moet dringend herstel word en tydelike maatreëls is ingestel. Ndlovu vra hulp terwyl die regering voortgaan om die situasie dop te hou:
# Die hoof van die Suid-Afrikaanse vloot, Monde Lobese, het die omstrede BRICS Will for Peace 2026-vlootoefening in Kaapstad verdedig en sê dis noodsaaklik vir die versterking van maritieme veiligheid en samewerking. Die oefening, waarby Rusland, China en Iran betrokke is, word ondersoek na berigte dat president Cyril Ramaphosa Iran gevra het om te onttrek. Lobese sê ten spyte hiervan is daar waardevolle lesse uit die oefening geleer, met professionele bande wat versterk is terwyl streeks- en globale maritieme bestendigheid bevorder is.
# Dit is veilig om parasetamol tydens swangerskap te neem en daar is geen bewyse dat dit die risiko van outisme, aandagafleibaarheidsindroom en ontwikkelingsprobleme by kinders verhoog nie. Kenners sê die bevindinge deur die belangrike nuwe oorsig in die Lancet-joernaal behoort swanger vroue moet gerus te stel. Die oorsig weerspreek die opspraakwekkende bewerings deur president Donald Trump dat parasetamol gekoppel kan word aan outisme by kinders, indien dit tydens swangerskap geneem word. Sy sienings is destyds deur mediese organisasies wêreldwyd gekritiseer. Kenners sê hierdie jongste oorsig behoort die debat oor die veiligheid daarvan te beëindig.
# En rugby: Die Stormers het gister op die Kaapstad-stadion vyf punte op die Kampioenebeker-punteleer bygevoeg met hul 39-26-sege oor Leicester Tigers in hul laaste groepwedstryd. Die Stormers is nou tweede in hulle groep en sal ʼn tuisvoordeel vir hul ronde van 16-wedstryd in April hê indien La Rochelle vandag die Harlequins klop. In Durban het die Sharks Saterdag hulle groepfase afgehandel toe hulle Clermont Auvergne met 50-12 verpletter het. Hulle kon egter nie na die laaste 16 deurdring nie nadat Toulouse die Sale Sharks met 77-7 afgeransel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….