Nuus 17:00
BULLETIN 16 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Herrie oor Iran se deelname aan militêre oefening lei tot ‘n dringende Verdedigingsondersoek
# Dumisani Khumalo vra Vusimuzi “Cat” Matlala om ‘n klagte by OPOD in te dien oor klopjagbewerings
# En, ACSA sê internasionale aankomste by Kaapstad Internasionale Lughawe het met 11% gestyg
# Die Ministerie van Verdediging en Militêre Veterane het die stigting van ‘n ondersoekraad aangekondig om bewerings rakende Iran se rol in die Will for Peace-militêre oefeninge te ondersoek. Die ministerie se woordvoerder, Siphiwe Dlamini, sê die ondersoek volg op nuusberigte wat bevraagteken of president Cyril Ramaphosa se opdragte oor die manier waarop die oefening uitgevoer moet word, behoorlik ingestel is:
# Die hoof van misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, sê die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala moes ‘n klagte by die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat ingedien het ná bewerings dat sy vrou en kinders tydens ‘n klopjag met ‘n vuurwapen gedreig is. Khumalo getuig voor die Parlement se ad hoc-komitee oor beweerde misdaad in die polisie. Khumalo het getuig indien sulke gedrag plaasgevind het, was Matlala daarop geregtig om dit aan te meld:
# Kaapstad het in die feestyd ‘n sterk toename in toerisme beleef, met meer as 1,2-miljoen passasiers wat verlede maand deur die Kaapstadse Internasionale Lughawe beweeg het – ‘n toename van agt-persent teenoor 2024. Dit is volgens die Lughawensmaatskappy Suid-Afrika. Die uitvoerende hoof van Kaapstad Toerisme, Enver Duminy, sê internasionale aankomste het met 11-persent gestyg, streek-aankomste met 13-persent en binnelandse aankomste met ses-persent, en die lughawe het die afgelope jaar 11,1-miljoen passasiers hanteer:
# TikTok gaan nuwe ouderdomsopsporingstegnologie regoor Europa begin instel, met druk wat toeneem om gebruikers onder 13 te identifiseer en te verwyder. Die tegnologie ontleed profielinligting, video’s en gedragseine om te voorspel of ‘n rekeninghouer dalk minderjarig is. Australië het verlede jaar die eerste land ter wêreld geword om ‘n sosiale media-verbod op persone onder 16 in te stel. Die Europese Parlement dring aan op ouderdomsbeperkings op sosiale media-platforms, terwyl Denemarke sosiale media vir persone onder 15 wil verbied. ‘n Britse proefprojek het gelei tot die verwydering van duisende gebruikers onder 13.
# Krieket: Twee voormalige kampioenspanne pak mekaar vanmiddag in die SA20. Die verdedigende kampioen MI Cape Town verwelkom die kampioenspan van die eerste twee seisoene, Sunrisers Eastern Cape, in die Moederstad. Die gashere lê steeds laaste op die punteleer na slegs twee oorwinnings in hul eerste agt wedstryde. Die besoekers is tans in die tweede plek agter Paarl Royals. Albei spanne het reeds vir die uitspeelrondes gekwalifiseer. Die groepfase van die kompetisie eindig Maandag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-431-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-594-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 63-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….