Nuus 14:00
BULLETIN 16 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Aanhoudende reën dwing sluitings in die Krugerwildtuin
# Die VF Plus gaan die instelling van die bek-en-klouseer-plan noukeurig monitor
# En rugby: Japan wil die Wêreldbekertoernooi weer in 2035 aanbied
# Aanhoudende reën beïnvloed Limpopo en Mpumalanga steeds, nadat SANParke reeds gedwing is om dagbesoeke aan die Krugerwildtuin tydelik op te skort. Die woordvoerder, JP Louw, sê toegang is beperk tot oornagbesoekers, noodsaaklike personeel, afleweringsvoertuie en lugvervoer met bevestigde besprekings. Hy voeg by alle toerisme-bedrywighede is opgeskort en die noordelike gebiede bly ontoeganklik:
Intussen het die Departement van Water en Sanitasie gemeenskappe verseker die wal van die Tzaneen-dam in Limpopo is nie in gevaar nie, ondanks swaar reën wat die dam laat oorstroom het. Die departement veroordeel berigte op sosiale media oor strukturele skade. Die damwal is tydelik met vier meter verlaag as deel van ‘n voortgesette opgraderingsprojek, wat tans toelaat dat oortollige water veilig oorvloei. Ingenieurs het bevestig daar bestaan geen onmiddellike bedreiging vir gemeenskappe wat stroomaf bly nie, want die dam word voortdurend gemonitor.
# Die Vryheidsfront Plus beloof om die regering se bek-en-klouseerplan fyn dop te hou nadat hy gevra het dat ‘n ramptoestand uitgeroep word. Die party sal voortgaan om politieke druk toe te pas om te verseker dat die maatreëls wat die minister van Landbou, John Steenhuisen, aangekondig het om die verspreiding van die uitbreking te beperk, doeltreffend uitgevoer word. Wynand Boshoff van die VF Plus sê baie van hierdie maatreëls is lank reeds moontlik en word sedert 2021 aanbeveel:
# Activists and Citizens Forum sê byna alle polisielede in Gauteng is na bewering deel van misdaadsindikate, wat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se vroeëre waarskuwings eggo. Woordvoerder Dennis Bloem vra nasionale kommissaris Fannie Masemola om korrupte amptenare te herontplooi en betroubare personeel van ander provinsies in te bring. Hy dring daarop aan dat erkende misdadige lede verwyder word en waarsku die samelewing kan nie beskerm word deur skelm polisielede nie:
# Rugby: Japan wil weer die Wêreldbekertoernooi aanbied na die sukses van 2019 toe die Springbokke die beker die derde keer ingepalm het. Die Asiatiese land het sy voorneme aangekondig om vir 2035 se skouspel te bie, en ‘n belangstellingsverklaring by Wêreldrugby ingedien. Die president van Japan Rugby, Masato Tsuchida, wil hê sy land moet die beste Wêreldbekertoernooi ooit aanbied, maar hulle kan teenstand ondervind van Italië, Spanje en die Midde-Ooste. Die gasheerland sal na verwagting laat volgende jaar aangekondig word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-399-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-610-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….