Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Paarl Royals het die SA20 se uitspeelronde bereik danksy Ottneil Baartman se meesterlike boulwerk wat hulle gelei het tot ‘n bonuspunt-oorwinning met ses paaltjies oor Pretoria Capitals in Centurion. Baartman het vyf paaltjies platgetrek en die tuisspan help uitboul vir 127. Die 32-jarige Baartman is die tweede bouler in die kompetisie se geskiedenis wat ʼn driekuns behaal nadat Pretoria Capitals se naatbouler, Lungi Ngidi, dit verlede week reggekry het. Rubin Hermann het daarna 46 aangeteken en Royals het die teiken gemaklik bereik met ses paaltjies staande en 25 balle oor.
# Sokker: 2022 se kampioen, Suid-Afrika, is in Groep B saam met die Ivoorkus, Burkina Faso en Tanzanië vir die Afrikabekertoernooi vir vroue wat in Maart en April in Marokko plaasvind. Banyana Banyana het verlede jaar in die halfeindronde uitgeval. Die verdedigende kampioen, Nigerië, is in Groep C saam met Zambië, Egipte en die nuweling, Malawi. Marokko speel in Groep A teen Algerië, Senegal en Kenia. Die vier spanne in die voorlaaste ronde kwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Evan Roos gaan tot minstens 2028 in Kaapstad bly nadat hy sy kontrak met die Stormers verleng het. Hy het reeds 74 wedstryde vir die span gespeel en is in 2022 as die Spelers se Speler van die Seisoen aangewys toe die Stormers die Verenigde Rugbykampioenskap gewen. Hy het dieselfde jaar sy internasionale buiging gemaak. Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, sê die 25-jarige Roos het op ‘n baie jong ouderdom indruk gemaak en hy glo die beste van hom moet nog gesien word.
Ander rugbynuus: Japan wil weer die Wêreldbekertoernooi aanbied na die sukses van 2019 toe die Springbokke die beker die derde keer ingepalm het. Die Asiatiese land het sy voorneme aangekondig om vir 2035 se skouspel te bie, en ‘n belangstellingsverklaring by Wêreldrugby ingedien. Die president van Japan Rugby, Masato Tsuchida, wil hê sy land moet die beste Wêreldbekertoernooi ooit aanbied, maar hulle kan teenstand ondervind van Italië, Spanje en die Midde-Ooste. Die gasheerland sal na verwagting laat volgende jaar aangekondig word.
# En laastens, tennis: Die voormalige wêreld-nommer-een, Roger Federer, sê dit sal ongelooflik wees as die wêreld se huidige beste speler, Carlos Alcaraz, die Australiese Ope wen om ‘n loopbaan-Grand Slam te behaal op 22-jarige ouderdom. Die Spanjaard het reeds die ander drie Grand Slam-toernooie twee keer gewen, met die titel in Melbourne die enigste wat hy nog nooit in sy glinster-loopbaan kon inpalm nie. Sy beste vertonings in Australië was twee keer in die kwarteindronde. Die Switserse legende sê dit sal ‘n ongelooflike en spesiale oomblik wees as Alcaraz slaag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….