Nuus 14:00
BULLETIN 15 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Inhegtenisnemings vir dronkbestuur styg met 144-persent tydens die feestyd
# Agt-en-veertig seuns sterf landwyd tydens die somer-inlywingseisoen
# En rugby: Die voorsitter van Nieu-Seeland Rugby sê die All Blacks het nie vordering gemaak onder Scott Robertson nie
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, is bekommerd oor die skerp styging in inhegtenisnemings vir dronkbestuur tydens die feestyd – ‘n styging van 144-persent. Sy het tydens die bekendstelling van die padveiligheidsverslag gesê wetstoepassingsbeamptes het een-duisend-632 padblokkades uitgevoer en 1,8-miljoen voertuie deursoek. Creecy het bevestig meer as 450-duisend boetes is uitgereik, 525 mense is aangekeer vir spoed en 89 motoriste vir pogings om verkeersbeamptes om te koop:
# Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het bevestig 48 seuns is landwyd dood tydens 2025 se somer-inlywingseisoen. Die Oos-Kaap en die Vrystaat het die meeste sterftes aangeteken. Die departement se woordvoerder, Pearl Maseko-Binqose, sê minister Velenkosini Hlabisa en die president van die Kongres van Tradisionele Leiers, Kgoshi Mokoena, het ooreengekom kulturele bewaring en die beskerming van lewens moet voorkeur geniet:
# Die Gautengse Onderwysdepartement het die versekering gegee dat alle leerders in skole geplaas sal word, selfs al neem dit ‘n rukkie. Byna vyf-duisend graad 1- en graad 8-leerders was nog nie geplaas toe die skooljaar gister begin het nie. Die provinsie se vermoëns-probleme word toegeskryf aan vinnige bevolkingsgroei, interne migrasie en intense vraag na gehalteskole in stedelike distrikte. Die departement het ouers en versorgers van ongeplaasde kinders gevra om tot tien dae toe te laat vir die departement om geskikte skole te identifiseer.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, lei ‘n hoëvlak-besoek van die Afrika-Unie se ad-hoc-komitee van Vyf na Juba in Suid-Soedan. Die land is geoormerk om sy eerste verkiesing te hou sedert sy onafhanklikheid van Soedan in Julie 2011. Die C5 is in Desember 2014 deur die AU se Vredes- en Veiligheidsraad gestig. Die departement sê Lamola lei die afvaardiging in sy hoedanigheid as voorsitter en die besoek is daarop gemik om die Herleefde Ooreenkoms oor die Oplossing van die Konflik in Suid-Soedan te beoordeel.
# Rugby: Die voorsitter van die Nieu-Seelandse Rugbyraad, David Kirk, sê die besluit om paaie te skei met die hoofafrigter, Scott Robertson, was weens kommer oor die All Blacks se rigting en vordering. Sy wenpersentasie van 20 oorwinnings uit 27 wedstryde is heelwat laer as dié van sy voorganger, Steve Hansen. Kirk sê die regte tyd om na die span se vordering te kyk is in die middelpunt van die Wêreldbeker-siklus:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-815-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-612-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….