Nuus 13:00
BULLETIN 15 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Feestyd-padsterftes styg in vier provinsies
# Toyota SA herroep Hino 700-reeks vragmotors weens brandstoflekkasie-gevaar
# En Olimpiese Spele: Die goedkoopste kaartjies vir Los Angeles 2028 verkoop vir 460-rand
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê vyf provinsies het in die feestyd afnames in padsterftes aangeteken, met die Oos-Kaap wat die grootste afname toon, gevolg deur die Vrystaat. Toenames is egter aangeteken in Gauteng, die Wes-Kaap, Mpumalanga en die Noord-Kaap. Creecy sê meer as 40-persent van die ongelukke het plaasgevind tussen 15 en 28 Desember. Sy bevestig die meeste voetgangersterftes was in Kaapstad, eThekwini, Nkangala en Tshwane:
# Toyota Suid-Afrika het sekere Hino 700-reeks vragmotors herroep wat tussen 4 Februarie en 9 November verlede jaar verkoop is. Die Nasionale Verbruikerskommissie sê die herroeping raak 58 vragmotors landwyd. Die stap volg weens ‘n fout in die brandstofpomp-houer, waar ‘n verkeerde oppervlak-behandeling krake kan veroorsaak onder hoë lading, wat tot brandstoflekkasies kan lei. Eienaars word versoek om inspeksies te bespreek by gemagtigde handelaars. Alle herstelwerk wat verband hou met die herroeping word gratis uitgevoer.
# Openbare Beskermer Kholeka Gcaleka het ‘n ondersoek gelas na bewerings van omkopery en magsmisbruik by die Openbare Beleggingskorporasie. Dit volg op ‘n klagte van ‘n fluitjieblaser en nuusberigte wat die voorsitter, die adjunkminister van Finansies, David Masondo, en regshoof Lindiwe Masina-Dlamini onder verdenking gebring het. Bewerings sluit in die misbruik van openbare fondse, onreëlmatige regsoptrede en omkopery wat verband hou met beleggings. MDN News beweer Masina-Dlamini het onnodige regsgedinge teen ondernemings in swart besit aanhangig gemaak en omkoopgeld ontvang van regsfirmas wat by die sake betrokke was.
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling is bekommerd oor video’s en grafika op sosiale media wat vals beweer die Covid-19-welsynstoelaag gaan gestaak word. Dis tydens die pandemie ingestel om hulp aan armes te verleen, maar die voortbestaan na Maart volgende jaar is onduidelik. Die departement se woordvoerder, Sandy Godlwana, sê daar is geen besluit, aankondiging of riglyn van die Nasionale Tesourie oor die staking van die toelaag nie:
# Olimpiese Spele: Die goedkoopste kaartjies vir 2028 se Spele in Los Angeles, Amerika, kos 28-dollar, oftewel 460-rand. Die registrasieproses vir kaartjies het gister geopen vir voornemende toeskouers om vir trekking by alle items te kwalifiseer. Die trekking bly oop tot middel Maart. Suksesvolle bieërs sal per e-pos in kennis gestel word en ‘n tydgleuf kry om kaartjies te koop gedurende die daaropvolgende maand. ‘n Miljoen van die goedkoopste kaartjies sal beskikbaar wees, en ongeveer ‘n derde van alle kaartjies sal vir minder as een-duisend-600-rand verkoop word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-568-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-602-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….