Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die All Blacks se paaie het geskei met hoofafrigter Scott Robertson, halfpad deur sy kontrak van vier-jaar. Die 51-jarige het onder skoot gekom nadat sy span die eerste keer ooit ‘n weg-wedstryd teen Argentinië verloor en verlede jaar in Wellington ʼn rekord-nederlaag van 43-10 teen Suid-Afrika gely het. Robertson sê na ‘n oorsig einde verlede jaar glo hy dis in die span se beste belang dat hy wegstap. Hy sê dit sal die nuwe afrigtingspan tyd gee om voor te berei vir die volgende Wêreldbekertoernooi.
Nog rugbynuus: Die Springbok-slot Jean Kleyn gaan die einde van die seisoen by Gloucester in Engeland aansluit. Hy het sy vertrek van die Ierse klub Munster na tien jaar aangekondig. Kleyn het in 2016 by Munster aangesluit en vir Ierland gespeel in 2019 se Wêreldbekertoernooi voor Bok-afrigter Rassie Erasmus hom na Suid-Afrika teruggelok het. Hy het vir die Bokke gespeel in 2023 se Wêreldbekertoernooi. Gloucester se direkteur van rugby, George Skivington, sê hy bewonder Kleyn al lank vir sy skerpsinnigheid, ervaring en wenhouding.
# Krieket: Sunrisers Eastern Cape het hul plek in die SA20 se uitspeelronde te verseker met ʼn oortuigende oorwinning van 61 lopies oor Joburg Super Kings op St Georgepark in Gqeberha. Sunrisers se nuweling, James Coles, het ʼn onoorwonne 61 bygedra tot sy span se telling van 178 vir vyf. Senuran Muthusamy het daarna drie paaltjies platgetrek en die besoekers help uitboul vir 117. Muthusamy sê hulle vertoon tot dusver goed:
# Sokker: 2021 se kampioen, Senegal, en die gasheer, Marokko, meet Sondag in Rabat kragte in die eindstryd van die Afrikabekertoernooi. Sadio Mane se doel in die tweede helfte het Senegal se sege van 1-0 oor die sewemalige kampioen, Egipte, verseker, asook sy derde eindstryd die afgelope vier jaar. Marokko het Nigerië 4-2 met strafskoppe verslaan om sy eerste eindstryd sedert 2004 te haal. Hulle gaan probeer om die beker die eerste keer sedert 1976 te wen. Egipte en Nigerië sal Saterdag in Casablanca meeding om die bronsmedalje.
# En laastens, Olimpiese Spele: Die goedkoopste kaartjies vir 2028 se Spele in Los Angeles, Amerika, kos 28-dollar, oftewel 460-rand. Die registrasieproses vir kaartjies het gister geopen vir voornemende toeskouers om vir trekking by alle items te kwalifiseer. Die trekking bly oop tot middel Maart. Suksesvolle bieërs sal per e-pos in kennis gestel word en ‘n tydgleuf kry om kaartjies te koop gedurende die daaropvolgende maand. ‘n Miljoen van die goedkoopste kaartjies sal beskikbaar wees, en ongeveer ‘n derde van alle kaartjies sal vir minder as een-duisend-600-rand verkoop word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….