Nuus 12:00
BULLETIN 15 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer ondersoek bewerings van omkopery by die Openbare Beleggingskorporasie
# SANParke vra besoekers om die Paul Kruger-hek vir Skukuza te gebruik terwyl riviervlakke styg
# En rugby: Scott Robertson bedank as die All Blacks se afrigter
# Openbare Beskermer Kholeka Gcaleka het ‘n ondersoek gelas na bewerings van omkopery en magsmisbruik by die Openbare Beleggingskorporasie. Dit volg op ‘n klagte van ‘n fluitjieblaser en nuusberigte wat die voorsitter, die adjunkminister van Finansies, David Masondo, en regshoof Lindiwe Masina-Dlamini onder verdenking gebring het. Bewerings sluit in die misbruik van openbare fondse, onreëlmatige regsoptrede en omkopery wat verband hou met beleggings. MDN News beweer Masina-Dlamini het onnodige regsgedinge teen ondernemings in swart besit aanhangig gemaak en omkoopgeld ontvang van regsfirmas wat by die sake betrokke was.
Cosatu verwelkom intussen die bedanking van die uitvoerende hoof van die staat se Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka. Haar bedanking kom te midde van bewerings dat sy ‘n ondersoekende joernalis van Daily Maverick wou omkoop om ʼn ondersoek te laat vaar. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabele, sê hulle is verlig dat Malaka nie ʼn goue handdruk ontvang nie en dat haar bedanking haar nie teen strafregtelike gevolge beskerm nie:
# SANParke beveel aan dat besoekers aan die Krugerwildtuin die Paul Kruger-hek moet gebruik om toegang tot die Skukuza-ruskamp te verkry, aangesien riviervlakke in Limpopo en Mpumalanga styg. Ander roetes word beïnvloed, met die Pafuri- en die Punda Maria-hek wat gesluit bly en sommige paaie tussen Skukuza, Onder-Sabie, Krokodilbrug en Satara wat oorstroom is. SANParke se woordvoerder, JP Louw, het besoekers aangemoedig om die voorgestelde ingange te gebruik:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap sê die veldbrand woed steeds in die Swartberge. Dit het in ‘n noordwestelike rigting teen die berg af versprei en bedreig ‘n plaas laer af. Die munisipaliteit se woordvoerder, Herman Pieters, sê spanne was gereed en kon verdere verspreiding stop, en opruiming is aan die gang. Hy sê die brand bly aktief op die noordelike brandlyn net bokant die wildplaas:
# Rugby: Die All Blacks se paaie het geskei met hoofafrigter Scott Robertson, halfpad deur sy kontrak van vier-jaar. Die 51-jarige het onder skoot gekom nadat sy span die eerste keer ooit ʼn weg-wedstryd teen Argentinië verloor en verlede jaar in Wellington ʼn rekord-nederlaag van 43-10 teen Suid-Afrika gely het. Robertson sê na ‘n oorsig einde verlede jaar glo hy dis in die span se beste belang dat hy wegstap. Hy sê dit sal die nuwe afrigtingspan tyd gee om voor te berei vir die volgende Wêreldbekertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-474-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-602-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….