Nuus 11:00
BULLETIN 15 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu is bly die uittredende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust kry nie ‘n goue handdruk nie
# ActionSA sê die regering het versuim om die bek-en-klouseer-uitbreking doeltreffend te hanteer
# En rugby: Scott Robertson bedank as die All Blacks se afrigter
# Cosatu verwelkom die bedanking van die uitvoerende hoof van die staat se Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka. Haar bedanking kom te midde van bewerings dat sy ‘n ondersoekende joernalis van Daily Maverick wou omkoop om ʼn ondersoek te laat vaar. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabele, sê hulle is verlig dat Malaka nie ʼn goue handdruk ontvang nie en dat haar bedanking haar nie teen strafregtelike gevolge beskerm nie:
# ActionSA sê die regering versuim om die bek-en-klouseer-uitbreking te bekamp, terwyl burokratiese struikelblokke en streng nakoming van verouderde wetgewing die krisis vererger. Die huidige uitbreking het in 2021 begin toe diere vervoer is van Phalaborwa na KwaZulu-Natal, wat nou as die middelpunt van die siekte beskou word. Athol Trollip van ActionSA sê die Landboudepartement konsentreer op die beweging van lewende hawe, maar ignoreer vergoeding vir produksieverliese, veevrektes en verlies aan onvervangbare genetiese materiaal:
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party werk hard aan die toekoms van die regering van provinsiale eenheid in KwaZulu-Natal. Dit volg nadat die Nasionale Vryheidsparty, wat as die mag agter die troon beskryf word, aan die koalisieregering onttrek het. Mbalula glo egter die regering van provinsiale eenheid kan die storm deurstaan omdat dit bestendig is, anders as die MK-party:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê hy het op goeie gesag verneem Iran het geen planne om teregstellings uit te voer nie. Dit volg op vrese oor die lot van ‘n betoger. Iran het volgens berigte die teregstelling van die 26-jarige Erfan Soltani vir gister beplan. Hy is in hegtenis geneem tydens die hoogtepunt van massa-opstande waartydens meer as twee-duisend betogers dood is. Trump het verskeie moontlike optredes teen Iran oorweeg na aanleiding van die dodelike onderdrukking van die opstande, insluitend militêre toetrede.
# Rugby: Die All Blacks se paaie het geskei met hoofafrigter Scott Robertson, halfpad deur sy kontrak van vier-jaar. Die 51-jarige het onder skoot gekom nadat sy span die eerste keer ooit ʼn weg-wedstryd teen Argentinië verloor en verlede jaar in Wellington ʼn rekord-nederlaag van 43-10 teen Suid-Afrika gely het. Robertson sê na ‘n oorsig einde verlede jaar glo hy dis in die span se beste belang dat hy wegstap. Hy sê dit sal die nuwe afrigtingspan tyd gee om voor te berei vir die volgende Wêreldbekertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-243-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-608-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….