Nuus 09:00
BULLETIN 15 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dring daarop aan dat minister Lamola Iran by die VN se Menseregteraad verkla
# ActionSA sê die regering het misluk om die bek-en-klouseer-uitbreking te hanteer
# En sokker: Senegal pak die gasheer Marokko in die AFCON-eindstryd
# Die DA doen ‘n beroep op die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, om Iran by die Verenigde Nasies se Menseregteraad aan te gee oor die gewelddadige onderdrukking van burgerlike protesoptogte, wat na bewering reeds tot die dood van byna drie-duisend mense gelei het. Die party sê die regering staan voor ‘n morele toets en moet teen hierdie vergrype optree. Ryan Smith van die DA sê Suid-Afrika het ‘n plig om vryheid en menseregte te verdedig en moet outokratiese regimes kritiseer:
# ActionSA sê die regering versuim om die bek-en-klouseer-uitbreking te bekamp, terwyl burokratiese struikelblokke en streng nakoming van verouderde wetgewing die krisis vererger. Die huidige uitbreking het in 2021 begin toe diere van Phalaborwa na KwaZulu-Natal vervoer is, wat nou as die middelpunt van die siekte beskou word. Athol Trollip van ActionSA sê die Landboudepartement konsentreer op die beweging van lewendehawe, maar ignoreer vergoeding vir produksieverliese, vrektes onder vee en verlies aan onvervangbare genetiese materiaal:
# Die GOOD-party sê die herhalende vernietigende veldbrande in die Wes-Kaap en Oos-Kaap is ‘n duidelike bewys van altwee regerings se onvermoë om te beplan, voorkom en beskerm. Daar was geen sterftes in die provinsies nie, maar die veldbrande het ernstige skade aan eiendom en die gebied veroorsaak. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, sê oorbevolking, die gebrek aan voorbrande, gebrekkige toegangspaaie en swak basiese dienste verander voorspelbare seisoenale brande in grootskaalse krisisse:
# Amerika se spesiale gesant in die Midde-Ooste, Steve Witkoff, het fase 2 van die 20-punt vredesplan bekendgestel om die konflik tussen Israel en Gaza te beëindig. Dit sluit in dat Hamas ontwapen word, die gebied herstel word en ‘n groep Palestynse kenners aangestel word om Gaza te regeer. Die Nasionale Komitee vir die Administrasie van Gaza, wat beskryf word as ʼn tegnokratiese oorgangsliggaam, sal verantwoordelik wees vir die administrasie van daaglikse sake in Gaza. Byna 450 Palestyne is volgens berigte in Israelse aanvalle dood sedert die skietstilstand in Oktober ingestel is.
# Sokker: Die 2021-kampioene van Senegal en die gashere, Marokko, meet Sondag in Rabat kragte in die Afrikabekertoernooi se eindstryd. Sadio Mane se doel in die tweede helfte het Senegal se 1-0-sege oor die sewemalige kampioene, Egipte, en hul derde eindwedstryd in die laaste vier AFCON-toernooie verseker. Marokko het Nigerië 4-2 met strafskoppe verslaan om hul eerste eindstryd sedert 2004 te haal. Hulle sal probeer om die beker die eerste keer sedert 1976 omhoog te hou. Egipte en Nigerië sal Saterdag in Casablanca meeding vir die derde plek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-252-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-593-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….