Nuus 07:00
BULLETIN 15 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust bedank
# BOSA stel ‘n 10-punt onderwysreddingsplan voor
# En die EU-president steun Groenland
# Die beleërde uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka, het bedank. Sy is in Augustus verlede jaar voorlopig geskors nadat sy betrek is by die onregmatige suurstoftender van 836-miljoen-rand. Sy het na bewering toegelaat dat die tender toegeken word aan ‘n maatskappy wat nie kwalifiseer nie. Malaka is ook op kamera betrap waar sy die Daily Maverick-joernalis, Peter-Louis Myburg, probeer omkoop sodat hy nie oor die saak berig nie. Die trust sê haar bedanking word op 31 Januarie van krag en sy sal geen uittreepakket ontvang nie.
# Build One South Africa het ‘n vergadering met die Nasionale Onderwys- en Opleidingsraad aangevra om hul plan te deel om skole te verbeter. Die party se tienpuntplan sluit in die verhoging van die minimum slaagsyfer tot 50-persent, die skep van ‘n onafhanklike onderwyswaghond, die verbetering van onderwysers se salarisse, die byvoeging van vaardigheidsgebaseerde vakke en meer ondersteuning aan leerders wat sukkel. Die leier van BOSA, Mmusi Maimane sê dringende hervorming is nodig om leerderuitkomste te verbeter en die onderwystelsel te versterk:
# Die regering sê leerderveiligheid bly ‘n topprioriteit terwyl oorstromings steeds skoolonderrig in dele van Limpopo ontwrig. Die Departement van Basiese Onderwys werk saam met die provinsiale Onderwysdepartement om skade aan skole te bepaal en te verseker dat leerders en onderwysers nie in gevaar is nie. Die adjunk-regeringswoordvoerder, William Baloyi, sê, waar skole geraak is, sal tydelike maatreëls oorweeg word om voortgesette leer te ondersteun sodra dit veilig is:
# Die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, sê slegs Denemarke en Groenland kan oor Groenland se toekoms besluit. Dit volg nadat president Donald Trump van Amerika sy dreigement om die selfregerende Deense gebied te beset, herhaal het. Hy het ook nie die gebruik van militêre mag uitgesluit nie. Von der Leyen sê hulle respekteer die mense van Groenland se wense en belange, en hulle kan op die Europese Unie staatmaak:
# Krieket: Die veteraan Australiese snelbouler Josh Hazlewood glo hy sal fiks wees vir die T20 Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka nadat hy die reeks om die As weens beserings misgeloop het. Die 36-jarige sê sy rehabilitasie verloop volgens plan, nadat sy afwesigheid van die toetse teen Engeland hom ekstra tyd gegee het om sy beserings af te skud. Die Wêreldbeker begin op die sewende van volgende maand. Australië se eerste wedstryd is teen Ierland in Colombo op die 11de.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-699-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-603-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse komediant en voormalige Daily Show-aanbieder, Trevor Noah, gaan die Grammy-toekennings vir die sesde en laaste keer aanbied. Hy is sedert 2021 elke jaar die hoofaanbieder van die seremonie. Noah is ook vanjaar benoem vir sy oudiovertelling van sy kinderboek Into the Uncut Grass. Onder vanjaar se top-benoemdes is Kendrick Lamar, wat met nege benoemings lei, Lady Gaga, Bad Bunny en Sabrina Carpenter. Die toekennings sal op 1 Februarie in Los Angeles gehou word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….