Nuus 18:00
BULLETIN 14 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# MANCOSA sê Suid-Afrika se onderwysstelsel verkeer onder toenemende druk
# Die African Transformation Movement verwelkom die EU-denotering, bepleit sterker optrede teen finansiële misdaad
# En, die Sonkragvereniging rig ‘n waarskuwing oor Eskom se ontbondelingsplan
# Die Bestuurskollege van Suider-Afrika, Mancosa, sê Suid-Afrika se onderwysstelsel verkeer onder geweldige druk weens ongelyke toegang tot tegnologie en openbare universiteite wat oorvol is. Woordvoerder, Adri van der Merwe, sê studente betree tersiêre instellings met verskillende vaardigheidsvlakke, wat onderrig en leerwerk bemoeilik. Sy sê innoverende, inklusiewe en digitaal gedrewe instellings is die sleutel tot die oorbrugging van gapings, die uitbreiding van toegang en om gegradueerdes voor te berei vir die moderne ekonomie:
# Die African Transformation Movement verwelkom die Europese Unie se besluit om Suid-Afrika te verwyder van sy lys van hoërisiko-gebiede en prys die Nasionale Tesourie se pogings. ATM sê egter ernstige uitdagings, insluitend swakhede in die bekamping van finansiële misdaad, bestaan steeds. Die woordvoerder, Zama Ntshona, is bekommerd oor ongeregistreerde SIM-kaarte wat na bewering verbind word met onwettige kontantvloei. Hy doen ‘n beroep vir strenger regulasies en beslissende regeringsoptrede om die ekonomie en nasionale veiligheid te beskerm:
# Die Suid-Afrikaanse Sonkragbedryfsvereniging is bekommerd oor Eskom se hersiene ontbondelingsplan en waarsku dit kan belegging in transmissie-infrastruktuur ondermyn. Die vereniging sê die behoud van netwerkbates binne Eskom, terwyl ‘n aparte transmissie-operateur sonder bates geskep word, sal die instelling se vermoë beperk om kapitaal en regverdige toegang te bekom. Die uitvoerende hoof, Rethabile Melamu, waarsku dit kan kritieke netwerkuitbreiding vertraag en die toekomstige gevaar van beurtkrag verhoog.
# Die hoof van Uganda se verkiesingskommissie sê hy het dreigemente ontvang waarin hy gewaarsku word om nie sekere presidensiële kandidate as wenners aan te kondig in môre se verkiesing nie. Simon Byabakama het reageer op ‘n video wat wyd gedeel is van ‘n presidensiële assistent wat sê die verkiesingskommissie sal nooit die opposisiekandidaat, Bobi Wine, as president verklaar nie, selfs al sou hy wen. President Yoweri Museveni regeer die land reeds byna 40 jaar en wil op 81 ‘n sewende termyn inpalm. Wine, ‘n 43-jarige popster wat ‘n politikus geword het, is Museveni se grootste mededinger.
# Tennis: Die Oostenryker Sebastian Ofner het homself in die voet geskiet toe hy gedink het hy het sy kwalifiseringswedstryd vir die Australiese Ope gewen. Hy het 7-1 teen die Amerikaner Nishesh Basavareddy voorgeloop in die valbylpot van die derde stel, maar vergeet die beslissende stel se valbylpot gaan tot 10 punte. Ofner het na die net gedraf om sy teenstander te bedank, maar die skeidsregter het sy fout uitgewys en hy moes terugstap en voortspeel. Basavareddy het hom toe ingehaal om die valbylpot 13-11 te wen en die wedstryd te beklink.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-698-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-636-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 65-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….