Nuus 17:00
BULLETIN 14 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering stuur goeie wense aan leerders met die begin van die 2026 akademiese jaar
# ‘n Sielkundige bepleit simpatieke reaksie op matriekuitslae te midde van geestesgesondheidskwessies onder jongmense
# En, die Stad Kaapstad bedank sy inwoners vir netheid tydens die feestyd
# Die regering het leerders alles van die beste toegewens met die amptelike begin van die 2026 akademiese jaar. Miljoene leerders is vandag landwyd terug na die skoolbanke. insluitend leerders wat vir die eerste keer skool toe gaan. Die regering het ouers verseker leerders wat nog nie geplaas is nie sal geakkommodeer word terwyl provinsies laat aansoeke hanteer. Die adjunk-regeringswoordvoerder, William Baloyi, het leerders aangemoedig om gefokus, gedissiplineerd en toegewyd aan hul studies te bly en het ouers versoek om leerders by die huis ook te ondersteun:
# ‘n Sielkundige, Onke Mazibuko, versoek ouers, versorgers en opvoeders om die emosionele veiligheid van matrieks voorop te stel. Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angsgroep sê ongeveer 29-duisend Suid-Afrikaanse tieners poog elke jaar om selfdood te pleeg weens akademiese druk. Mazibuko sê hierdie syfers dui op ‘n volgehoue geestesgesondheids-uitdaging wat jaarliks toeneem wanneer die eksamen-uitslae vrygestel word:
# Kaapstad het inwoners, besoekers en die stad se personeel bedank vir hul samewerking en toewyding om die metro skoon te hou tydens die besige feestyd. Dit plaas gewoonlik groter druk op vullisverwyderingsdienste omdat duisende besoekers na die stad se strande, parke en openbare ruimtes stroom. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Afvalbestuur, Grant Twigg, sê vullisvolumes neem in hierdie tyd gewoonlik in verskeie gebiede toe:
# Die Wêreldbank sê die wêreldekonomie bly veerkragtig ondanks handelspanning en beleidsonsekerheid, met groei wat vanjaar op 2,6-persent beraam word en op 2,7-persent vir 2027. Die Bank sê prestasie in Amerika was sterker as wat verwag is en het bestendigheid ondersteun. Hy waarsku egter die 2020’s is op koers is om die swakste groeidekade sedert die 1960’s te wees, wat wêreldwye inkomstegapings sal vergroot en werkskepping sal uitdaag, veral in ontwikkelende ekonomieë.
# Sokker: Die Nigeriese waarnemende kaptein Alex Iwobi sê die Super Eagles wil hul eer herstel wanneer hulle vanaand teen die gasheer, Marokko in die 2025 Afrikabekertoernooi-halfeindronde in die Prins Moulay Abdellah-stadion in Rabat te staan kom. Marokko is vir die eerste keer in 22 jaar in die halfeindronde. Die kragmeting tussen die twee swaargewigte sal waarskynlik ‘n riller wees met aanvalle en verdedigingvan die hoogste gehalte. Iwobi sê Nigerië gaan alles moontlik doen om tot die eindronde deur te dring:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-167-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-630-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….